Tehuis hou weer wynveiling

Huis Wittekruin hou vanjaar sy vyfde wynveiling op Vrydag 13 September.


Huis Wittekruin hou vanjaar sy vyfde wynveiling op Vrydag 13 September.

Die geleentheid dien as ’n geldinsamelingsgeleentheid vir die tehuis waarby die inwoners kan baat. Volgens Karin Delport, ’n bestuurder van Huis Wittekruin, gaan die geld wat vanjaar geïn word, gebruik word vir die vervanging van die tehuis se teerblad.

“Die teerblad is in ’n gehawende toestand met baie gate. Dit is ’n veiligheidsrisiko vir inwoners wat hulself ernstig kan beseer,” vertel Delport.

Nes verlede jaar glo Delport vanjaar sal ook ’n sukses wees. Met sowat 40 lotte is daar baie om na uit te sien en alles is vir ’n goeie doel. Die seremoniemeester vir die aand is Hendrik Louw en Tjaart Steyn keer terug as afslaer.

Gaste kan uitsien na ’n lekker samesyn, goeie wyn en ’n driegang-maaltyd. Soos Delport sê – “dit is ook ’n kans om ’n verskil in ’n ouer mens se gehalte-verblyf en versorging te maak.

“Die ouer mense het die gemeenskap gebou tot waar dit vandag is. Hulle het basaar gehou om kerkgeboue te bou, ensovoorts. Ons ma’s en pa’s het hard gewerk sodat ons ons drome kon verwesenlik en waar maak. Dit is ons beurt om dankie te sê en ons doen dit deur hulle op hul oudag goeie gehalte verblyf en versorging te gee.”

Kry nou jou kaartjie en woon die aand by. Die wynveiling begin om 18:30 vir 19:00. Kaartjies kos R150 per persoon. Om te bespreek bel Huis Wittekruin by 022 713 2230 / 9.

You need to be Logged In to leave a comment.