Langebaan Stars-gimnastiekklub is bekend vir sy akrobatiese vaardighede, maar het vanjaar ’n teaterdans-tak bygevoeg.
Die klub, wat in 2006 in Langebaan begin is, sal nou seuns en meisies van 4 jaar en ouer in tap-dans, moderne dans en ballet onderrig.
“Ons het drie afrigters in die klub. Bianca Noble doen ons Mini-Stars, Robbie Louw ons tuimel en trampolien en ek is die hoofafrigter. Al drie van ons en die klub is geaffilieer by die SAGF (GSA) wat die beheerliggaam vir gimnastiek in Suid-Afrika is,” verduidelik Madeleine van der Merwe.
Die klub neem deel aan verskeie inter-klub-, Weskus- en Westelike Provinsie-kompetisies, asook die Suid-Afrikaanse Spele. Die klub het ook aan ’n internasionale kompetisie, Gym for Life Challenge, deelgeneem, waar hy ’n derde plek behaal het. Hy het ook aan die gewilde program op DSTV, Dans in jou taal, deelgeneem.
Die klub neem ook gereeld aan die Madiba-beker, wat tuimel en trampolien insluit, deel.
Tans is die klub besig om voor te brei vir die SA Spele wat binnekort in Gauteng plaasvind. Van der Merwe sê soos elke jaar is dit ’n groot finansiële uitdaging om die ontwikkelings-gimnaste by die byeenkoms te kry. Hierdie jaar snoer Langebaan-jukskei en die Langebaan Stars hulle kragte saam en hou ’n mandjie-dans om te help met beide klubs se onkostes.
Die spelers van Langebaan-jukskei sal binnekort aan die meesterstoernooi in Kroonstad deelneem.
. Die mandjie-dans vind Dinsdag 29 September by die Langebaan-gemeenskapsaal plaas. Vir meer inligting en om ’n kaartjie te koop, kontak Van der Merwe by 082 811 8118 of Jaco Basson van Langebaan-jukskei by 079 167 9646.