Inwoners van Witteklip en George Kerridge op Vredenburg en Middelpos in Saldanha is moedeloos en hulpeloos nadat swaar reën verwoesting in baie se wonings veroorsaak het.
Baie huise is heeltemal oorstroom of lek deur die dak. Volgens inwoners is daar baie mense wat nie nuwe dakplate kan bekostig nie óf ‘n uitweg na ‘n ander tuiste nie.
“Ons moet orals emmers sit, en wat dit nog moeiliker maak is die kinders en bejaardes wat in hierdie sopnat toestande moet rondbeweeg ensiek raak. Dit is glad nie lekker om in sulke omstandighede te bly nie.”

Die inwoners meen die mense weet nie meer watter kant toe nie. Hulle vra al vir seile en sandsakke om hul wonings teen die weertoestande te beskerm.
“Mense wag vir die toerusting en niemand kom uit nie. Daar is gesê ons moet vorms invul om dit te verkry, maar hier is inwoners wat nie eens selfone of selfoondata het om hierdie vorms in te vul nie.”
Elizabeth Mentoor van Witteklip het aan Weslander gesê sy is bekommerd oor haar kinders se gesondheid. Water het tot binne in haar huis gestroom, wat alles sopnat gelaat het.
“Ek moes in die reën slote grawe net om die water te probeer keer. Daar het darem mense met kombersegehelp, maar ek kan nie die nat komberse uit hang nie, want dit reën steeds aanhoudend.”
Buiten al die struikelblokke is dit vir Witteklip-inwoners wonderlik om te sien hoe almal in hierdie moeilike tyd saamstaan en ‘n hand bysit.
Inwoners van van Middelpos sê dit is skokkend om al die waterdamme in die strate te sien. Hulle meen dit is darem beter dat met die skoolvakansie wat begin sodat kinders nie ook nog hoef te sukkel om by die skool uit te kom nie. “Mense kan eenvoudig nie in hierdie omstandighede woon nie. Ek maan enige iemand aan in alle areas om uit te reik na dié wat dringend hulp nodig het,” het ‘n inwoner bygevoeg.

Mentoor voeg by dat hierdie slegs die begin is en sy is bekommerd oor die swaar reëns wat nóg hierdie winter gaan kom.
You must be logged in to post a comment.