Mynmasjinerie aan die werk by Kumba se Sishen-myn naby Kathu in die Noord-Kaap. Foto: Kumba


Diamante, olie, sand en gas is net van die grondstowwe wat maatskappye in die Weskus wil ontgin.

Nuwe aansoeke is onlangs by die departement van minerale hulpbronne en energie ingedien om onder meer hierdie grondstowwe langs die kus te myn.

Van die beplande projekte is aansoeke vir Africa Oil SA Corp langs die Weskus; TGS vir verskeie gebiede insluitend St. Helenabaai en Hondeklipbaai; Searcher Seismic 2.0 langs St. Helenabaai; Karpowership in Saldanhabaai asook TOSACO, TEEPSA en Azinam South Africa – alles langs die groter Weskus-streek.

Die projekte is almal in verskeie stadiums van die aansoekproses.

Die jongste aansoeke is binne weke van mekaar ingedien en in dieselfde gebied.

Fish by the Sea het ’n aansoek ingedien vir omgewingsmagtiging om diamante in die Matzikama- munisipale gebied te ontgin. Volgens die omgewingsgroep Protect the West Coast is die strook kuslyn ekologies sensitief en word die natuurskoon reeds deur bestaande mynwerk bedreig.

Kotze West Coast Mining het op sy beurt ook aansoek gedoen om diamant- prospekteerregte. Die departement het Richwill Diamonds se aansoek afgekeur weens die indringende metodes waardeur hulle diamante sou ontgin. Die departement was gekant teen die maatskappy se ontginningsmetode – om kuslangs met loopgrawe te delf.

In die Saldanhabaai- munisipale gebied blyk dit Searcher Seismic 2.0 het reeds met sy seismiese ontploffings begin. Die doel van dié proses is om ’n drie-dimensoniele kaart van die seebodem te skep. Die maatskappy se navorsingskip, Ramform Atlas, is reeds in die Weskus en het glo op 1 Januarie met werk tussen St. Helenabaai en Hondeklipbaai begin. Die maatskappy wil uiteindelik bepaal of olie en/of gas ontgin kan word.

Intussen is daar kleinskaalse vissers, omgewingsaktiviste en inwoners wat bekommerd is oor al die projekte en hul langtermyngevolge. Vir ander is dit die moontlikheid van werkskepping in ’n distrik met ’n 16%-werkloosheidskoers volgens 2022-statistieke van die Wes-Kaapse regering, wat wen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025