Sowat 350 mense met gestremdhede het Maandag in Saldanha aan die West Coast Disability Forum se prettige geleentheid ter viering van die internasionale dag vir gestremdes (Sondag 3 Desember) deelgeneem.
Die mense het ’n bewusmakingsoptog met betrekking tot gestremdhede in Saldanha in hul rolstoele saam met hulle versorgers gehou, waarna die gaste die res van die dag by die Dial Rock-saal deurgebring het.
Verskeie sprekers het met die gaste kom praat en ’n kers is in die gees van internasionale Vigsdag (Vrydag 1 Desember) ter nagedagtenis aan mense wat aan Vigs gesterf het, aangesteek.
Nadat al die ernstige oomblikke agter die rug was, het die mense na die speletjietafels beweeg, geskenke is uitgedeel en buite die saal het die departement van sport en kultuur oefeninge, soos om balle deur hoepels te gooi wat in die bome hang, opgedis.
HIV/TB Care het sy dienste gratis aan die gaste gebied en die dag is met solosang, koorsang en ’n Kersspel deur die Sisonke Protective Workshop afgesluit. Sisonke is ’n sentrum wat entrepreneurskap by mense met gestremdhede aanmoedig en fokus op die ontwikkeling van vaardighede.
West Coast Disability Forum het al sy vennote wat tot die sukses van die dag bygedra het, waaronder die departement van maatskaplike ontwikkeling, die polisie, die Saldanhabaai-munisipaliteit, die Weskus-distriksmunisipaliteit en verskeie plaaslike organisasies sonder winsbejag, bedank. ’n Spesiale woord van dank is aan Kurt Paulse van Paulse Transport vir die vervoer van die gaste en hul rolstoele geopper.