Die gemeenskap van Paternoster is in rou gedompel ná die dood van Berandina Carolus (née Jordaan).
Carolus (69) is Vrydag (30 Augustus) in die Vredenburg- provinsiale hospitaal oorlede. Soos haar dogter, Vanessa Abrahams, vertel, het haar ma verlede jaar in November ’n massiewe beroerte gehad. Met die beroerte het dokters Carolus as ’n diabeet gediagnoseer. Die beroerte het haar ook aan die linkerkant van haar liggaam verlam gelaat en haar spraak aangetas.
“Om te dink dokters het al in Desember opgegee en gesê dat sy net weke oor het, maar die Here het haar nog agt maande gespaar. Sy het baie goed verbeter, maar ek dink die beterskap was sodat ons kan afskeid neem met net goeie tye saam,” vertel Abrahams.
Sy beskryf haar ma as ’n fearless lady. Al was sy nie hooggeleerd nie, kon sy ’n skare mense lei. “Sy was ’n ystervrou; ’n sterk vrou. Sy het diep spore in die lewe van baie mense getrap. Die beroerte het haar geheue so aangetas dat sy ons nie herken het nie en sy kon nie ’n gesprek voer nie, maar die ywer en wil binne haar kon haar die Onse Vader laat bid, liedere sing en aanbidding doen tot ere van die Here.”
Wat Abrahams en baie in die familie van haar sal mis, is die drukkies en soentjies asook elke Sondag se kuiers, aand-boodskappies en bemoedigings.
Carolus het glad nie stilgesit in haar tyd nie en was betrokke by die vroue-netwerk, die vroue- en kindermishandeling-inisiatief, die Paternoster-buurtwag en ook ’n raadslid van wyk 11.
Ryan Don, wat saam met Carolus gewerk het, sê sy sal gewis onthou word as ’n nederige, plat-op-die-aarde-mens wat altyd die lot van Paternoster, Stompneusbaai en die Cove eerste gestel het – meer spesifiek, veral die groep mense met wie dit baie moeilik gaan en veral as dit nog vissermanne en -vroue en hul families is. “Wanneer dinge in koukusvergaderings onstuimig geraak het, was sy die een wat kalmte oor ons gebring het. Sy het soos ’n ma-figuur opgetree,” sê Don.
Hy voeg by wat so merkwaardig van Carolus was, was die feit dat sy nooit bang was of gehuiwer het om ongemaklike gemeenskapsvergaderings te lei nie, hetsy dit nou oor behuising of visvangkwotas gaan, of kwessies soos die toestand van die Paternosterpad of werksgeleenthede vir wyk 11 se inwoners. “Sy sal altyd haar man (vrou) staan en ons as haar mederaadslede sou haar altyd ondersteun.”
André Kleynhans, ’n inwoner van Paternoster, meen die afsterwe van Carolus is soos ’n rots wat uit die dorp geruk is. Hy het verwys na Carolus se betrokkenheid in die gemeenskap en haar samewerking. Abrahams sê haar ma was haar rolmodel en het altyd ander se behoeftes as belangriker as haar eie gesien. Sy laat haar eggenoot, vyf kinders, 20 kleinkinders en vyf agterkleinkinders agter.