Kelly Smith (33) wat saam met nog drie mense van die ontvoering en verkoop van haar sesjarige dogter Joshlin aangekla word, probeer die trane keer wat oor haar wange loop.Foto: Danie Hefers


Die eerste keer in die uitgerekte hofsaak oor die vermiste Joshlin Smith (6) van Saldanha, het haar hoogswanger ma, Kelly Smith (33), emosioneel geraak.

Joshlin is sewe maande gelede, op Maandagaand 19 Februarie, by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aangegee. Sedertdien is nog geen spoor van die tenger grysgroenoogkind gevind nie.

Smith en nog drie beskuldigdes het Maandag (16 September) die vyfde keer in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering en mensehandel vir die doeleinde om uit te buit.

Die ander beskuldigdes in die saak is Smith se kêrel, Boeta (Jacquen Rowhan) Appolis (31), sy vriend Steveno van Rhyn (27) en ’n buurvrou, Renze (Lorentia) Lombard (31).

Smith het so ongesiens moontlik probeer om die trane wat onbeheersd begin loop het, te keer terwyl die hofsitting sy gang gaan. Dit was die eerste keer sedert die saak begin het dat sy nie met ’n strak gesig gestaan of vir die media geglimlag het nie, maar soos ’n ma in diep moeilikheid gelyk het.

Joshlin het in Diazville, Saldanha, grootgeword, maar die laaste paar jaar saam met haar ma, Appolis, en haar boetie en sussie in ’n hokkie langs ’n vuil stroompie in die informele Middelpos-nedersetting gebly.

Die span van die Wes-Kaapse eenheid teen georganiseerde misdaad wat in ontvoering spesialiseer, ondersoek Joshlin se verdwyning.

Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het ná die vier beskuldigdes se vlugtige verskyning in die hof gesê die staat het weer eens vir uitstel gevra om die saak verder te ondersoek omdat nuwe inligting aan die lig gekom het.

Nie Ntabazalila of senior staatsadvokaat Aradhana Heeramun het enigsins aangedui van watter soort inligting gepraat word nie. “Ons is egter verplig om enige getuienis wat na vore kom, te ondersoek,” het Ntabazalila verduidelik.

Marco Smeda, die regsverteenwoordiger vir al vier beskuldigdes, het die landdros daarop gewys dat die saak al ’n geruime tydperk op die rol is.

Smith, Appolis en Van Rhyn het die eerste keer op 7 Maart in die hof verskyn en het verkies om nie om borgtog aansoek te doen nie. Hulle word in die Pollsmoor-gevangenis buite Kaapstad aangehou.

Lombard se saak is later by die ander gevoeg en sy het ook nie om borgtog aansoek gedoen nie. Sy word in die vrouegevangenis in Worcester aangehou.

Landdros Theresa Postma het die saak finaal uitgestel tot Maandag 21 Oktober vir verdere ondersoek, waarna dit na verwagting na die Kaapse hooggeregshof oorgeplaas sal word.

Die ondersoekspan het dus 35 dae om al hul feite agtermekaar te kry, anders kan die saak dalk van die rol geskrap word.

You need to be Logged In to leave a comment.