Swaarkry, depressie maak haar sterk

Larissa Beukman moes dikwels haar ma se werk oorneem in die huis – terwyl sy voltyds skoolgegaan het, deur depressie gewerk het en na haar gesin moes omsien.


Larissa Beukman moes dikwels haar ma se werk oorneem in die huis – terwyl sy voltyds skoolgegaan het, deur depressie gewerk het en na haar gesin moes omsien.

’n Moeilike matriekjaar

Dié 18-jarige matrikulant van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg het egter sterker aan die ander kant uitgekom, die swaarkry oorkom en matriek met ’n A in geskiedenis geslaag.

Haar ma, ’n enkelouer, het in 2017 in Malmesbury begin werk nadat hulle na Moorreesburg verhuis het.

Die gesin het eers in Piketberg gewoon waar hulle alles verloor het en moes ná die trek van voor af begin.

“My ma woon in die week in Malmesbury en ons sien haar net naweke as sy geld kan afknyp vir petrol.”

Haar negejarige sussie is serebraal gestremd en Larissa moet gereeld inspring om by die huis te help en na haar om te sien.

“My ouma woon by ons, maar sy het onlangs ’n beroerte gehad en tydelik die gebruik van die linkerkant van haar liggaam verloor. Sy is nou weer reg, maar destyds moes ek baie in die huis help. In die eksamen was daar darem tye dat my ouma na my sussie gekyk het en ek myself in die kamer kon toemaak om te leer,” sê sy.

Die naaste skool vir kinders met spesiale behoeftes is in Saldanha en volgens Larissa is dit te ver en duur om haar sussie daarheen te stuur. Sy moet dus by die huis bly.

“Ek wil ’n sukses maak van my lewe sodat ons haar na ’n skool kan stuur sodat sy ook onderrig kan ontvang,” sê sy.

Larissa het boonop van 2015 tot 2017 aan erge depressie gely en selfs in haar gr. 11-jaar ’n klomp pille gedrink om haar lewe te probeer neem.

“Daarna is ek na ’n kliniek wat my baie gehelp het om die depressie onder beheer te kry. Alles het in plek geval en my gemiddelde het daarna met 20% gestyg,” sê sy.

Larissa sê sy het besluit om haarself te druk vir die beste en het danksy ’n goeie ondersteuningstelsel by die huis bo die slegte tye uitgestyg. Haar verhouding met haar ouma en ma het ook verbeter ná alles wat gebeur het.

Buiten haar verantwoordelikheid by die huis, het Larissa haarself ook baie gedruk om betrokke te wees by die skool. Sy was onder meer ’n dirigent en het aan baie naskoolse aktiwiteite deelgeneem.

“Ná alles wat gebeur het, praat ek makliker oor my probleme. Ek wou nooit daaroor praat nie, want ek wou nie dat mense my jammer kry nie.”

Noudat sy klaar is met matriek, gaan sy by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Wellington-kampus onderwys studeer. “Weens ’n tekort aan internet kon ek nie betyds aansoek doen vir beurse nie, maar ek hoop om my verblyf en finansiële steun uitgesorteer te hê voordat ek begin studeer.”

You need to be Logged In to leave a comment.