’n Bakkie graankos met laevetmelk, ’n appel en ’n glas lemoensap.
Hoe klink dít vir ’n gesonde ontbyt?
Dekades lank sou dieetkundiges hul oorgewig pasiënte ’n kloppie op die skouer gegee het vir dié “goeie” maaltydkeuse, maar genadiglik neem ongesonde laevet-, hoëkoolhidraatdiëte baie vinnig in gewildheid af. En met goeie rede!
Wetenskaplikes en voedingkundiges het die afgelope paar jaar herhaaldelik die verwoestende gevolge van hoëkoolhidraatdiëte bewys.
Oorgewig, obesiteit en leefstylverwante diabetes en hartsiektes is kommerwekkende epidemies die wêreld oor. Volgens kenners is te veel suiker en koolhidrate die groot sondaars.
Stysel soos rys, mieliepap, brood en aartappelskyfies is hoëkoolhidraatkosse en verander blitsig na suiker in jou bloedstroom. Daarom is die oormatige inname van stysel net so sleg soos die inname van suiker in sy basiese vorm.
Dr. Zane Stevens, ’n internis en endokrinoloog by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad, sê die voorkoms van obesiteit by Suid-Afrikaanse vroue is hoër as in Amerika, in verhouding tot die bevolkingsgrootte. Amerika staan bekend vir sy groot bevolking vetsugtige mense. “So, ons is beslis ’n swaar nasie,” sê Stevens. “En dít dryf die toename in tipe 2-diabetes.”
Kenners – soos die ontslape dr. Robert Atkins van Amerika, dr. Pierre Dukan van Frankryk en, meer onlangs, prof. Tim Noakes van Suid-Afrika – se uitgebreide navorsing oor suikerinname het grootliks daartoe bygedra dat die wêreld stelselmatig wegbeweeg van hoë-koolhidraatdiëte. En hoewel die drie manne se (soms omstrede) standpunte oor vetinname van mekaar verskil, beveel hulle al drie ’n dieet laag in koolhidrate en suiker aan.
Selfs Noakes se teenstanders stem saam dat suiker en ’n dieet wat te veel stysel bevat, baie sleg is.
Maar wat is ’n hoëkoolhidraatdieet nou eintlik? Dit is ’n eetpatroon wat baie suiker bevat. Jy sal verras wees hoeveel suiker in jou dieet skuil. Die meeste mense weet koek, koekies en lekkers bevat groot hoeveelhede suiker, maar nie almal is bewus van die skandalige hoeveelheid suiker in vrugtesap, gaskoeldrank en bier nie.
Suid-Afrika se onlangs gepubliseerde nasionale gesondheid- en voedingsondersoekopname verwys na die swak gehalte van die inhoud van skoolkinders se kosblikke. Volgens dié opname koop twee uit elke drie leerders meer as twee keer ’n week gaskoeldrank en vrugtesap wat tot 55 g suiker per drankie kan bevat. Die wêreldgesondheidsvereniging beveel vir kinders net 40 g suiker per dag aan.
Te veel suikerbevattende koeldrank word deur kenners beskou as die hoofoorsaak van vetsug en leerprobleme by kinders.
Kenners beveel aan dat kinders eerder kruietee, water, rooibostee of gegeurde rooibostee sonder bygevoegde suiker drink. Ernest du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse rooibosraad, sê rooibostee is net so doeltreffend soos water om die liggaam te hidreer en het bykomende gesondheidseienskappe.
Let wel, ystee op winkelyskasrakke is vol suiker. Dan skuil daar ook suiker in soppoeier en souse, kitsontbytpappe en die meeste verwerkte produkte, asook verwerkte vleisprodukte soos polonie.
Navorsing toon dat sekere mense meer koolhidrate as ander kan inneem en steeds gesond bly. Die geheim is om gebalanseerd en uit al die voedselgroepe te eet. En nee! Suiker is nie ’n voedselgroep nie. Vermy verwerkte kosse, kitskos en soetgoed, of eet dit in klein hoeveelhede en net by spesiale geleenthede. Eet net twee porsies vars vrugte ’n dag. Bly weg van versuikerde vrugte en vrugtesap. The Sweet Life (’n Suid-Afrikaanse diabetestydskrif) se paneel van kenners beveel ’n diabetiese eetprogram ook vir mense aan wat nie aan diabetes ly nie. Hulle meen ’n diabetiese dieet hoef nie vervelig te wees nie en kan hartsiektes sowel as diabetes voorkom. Dit word ook as ’n baie gesonde leefstylplan beskou.