Die dood van twee studente van die Universiteit Stellenbosch op Vrydag 23 Augustus het die kollig weer eens op die berugte kruising tussen die Weskuspad (R27) en die Vredenburg-Hopefieldpad (R45) laat val.
Weslander berig bykans jaarliks oor mense wat by die gevaarlike oorgang in motorongelukke sterf en verskeie kere per jaar oor mense wat beserings daar in motorongelukke opdoen.
In die jongste voorval is Dylan Muller (19) van Kenilworth, Kaapstad, op Vrydag 23 Augustus op slag dood toe die Suzuki Swift wat hy bestuur het in ’n vragmotor vasgery het. Hy en sy meisie, Ashley du Toit (21) van die Paarl, was net ná 20:00 onderweg na Paternoster waar hulle die naweek saam met familie sou deurbring.
Kapt. Tania Helfrich, Weskus-polisiewoordvoerder, het gesê die vragmotor het van Velddrif se rigting af gekom en die Suzuki Swift uit die rigting van Hopefield waar hulle petrol ingegooi het.
Du Toit se ma, Alison du Toit, het aan Weslander se susterskoerant Paarl Post gesê Ashley was ’n derdejaar bedryfsielkundestudent en Muller, een van ’n tweeling, ’n eerstejaar in rekenaarwetenskap.
Volgens Helfrich het die motor die vragmotor van die kant af getref en tussen die kopstuk en sleepwa beland.
Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue (WCMR) het gesê Metro EMS moes die oorledenes met hidrouliese toerusting uit die motorwrak sny.
Du Toit se ma het aan Paarl Post gesê sy was reeds in Paternoster waar die oorledenes by hulle sou aansluit vir die naweek. Sy het ná ’n oproep oor die ongeluk dadelik na die ongelukstoneel gery. Hier kon sy darem ’n paar woorde met haar dogter gesels voordat personeel van WCMR haar onder gevorderde lewensondersteunende sorg na die hospitaal gejaag het, waar sy gestabiliseer is.
Ashley se hart het egter gaan staan omdat sy te veel bloed verloor het. Dokters het 45 minute lank vergeefs probeer om haar by te bring.
Helfrich het bevestig dat die Vredenburg-polisie ’n saak van strafbare manslag ondersoek.
Alison het ook aan Paarl Post gesê haar dogter was vurig, selfversekerd, eiesinnig, onverskonend, toegewyd en lief vir lag. Sy het in 2020 aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer en was ’n ywerige perderuiter wat op nasionale vlak deelgeneem het. Sy het ook gesê die oorledenes het mekaar in November verlede jaar by ’n dansplek in Stellenbosch ontmoet.
Dylan het aan die Hoërskool Fairmont gematrikuleer. Hulle het vandeesweek aan hom as die kaptein van die waterpolo- en sokker-eerstespanne hulde gebring op Facebook. Hy word beskryf as “’n geliefde lid van die Fairmont High School-familie, bekend vir sy blink glimlag, sterk leierskap en vriendelikheid teenoor ander”.
Sy suster, Jade (19), het volgens Netwerk24 haar ma, Nicola Muller, met die doodstyding gebel. Dylan het voor die naweek vir sy ma gesê hy moet eintlik nie Paternoster toe gaan nie en eerder studeer.
Nicola het ook gesê Dylan was baie lief vir Ashleigh, en dat sy amper bly is hulle het saam gegaan, want dit laat haar voel hulle is nou ook saam.
Ashley word die naweek in Suider-Paarl begrawe.
Weslander het in April vanjaar berig oor Max Keller (71), ’n toeris van Switserland, wat ook by dié oorgang gesterf het. Hy het ook uit Hopefield se rigting gekom en voor ’n aankomende bakkie wat na Velddrif onderweg was, beland. Sy vrou, Getrude (68), is ernstig in die ongeluk beseer, maar kon ná haar herstel na Switserland terugkeer.
Van die opskrifte oor die jare oor ongelukke by die spesifieke oorgang lui “Hopefieldman ernstig beseer ná nag-ongeluk”, “Paasnaweek eis een lewe”, “Bekende in rugbykringe beseer in ongeluk”, “Kruisings eis twee lewens”, “Botsing eis 3”, “Een dood, talle in botsings beseer” en “Drie beseer in ongeluk by berugte R45-kruising”.