Stres kan lei tot beroertes of hartsiektes

Emosionele stres word regstreeks verbind met beroertes en hartsiektes.


Emosionele stres word regstreeks verbind met beroertes en hartsiektes.

Wetenskaplikes sê hulle kon dit sien toe hulle CT-skandeerbeelde van byna 300 mense geneem het.

Dié navorsing is pas in die vakjoernaal The Lancet geplaas.

’n Verhoogde aktiwiteit in die amigdala – ’n gebied in die brein wat betrokke is by stres – verhoog die risiko van ’n beroerte of hartsiekte. Die studie het ook gewys daar is hoër aktiwiteit in die beenmurg en milt en meer inflammasie in die are, wat ook verbind word met stres.

Dié verhoogde aktiwiteit in die amigdala is ’n soort biologiese meganisme waardeur dié deel van die brein ’n sein na die beenmurg stuur om ekstra witbloedselle te vervaardig. Dit het ’n reaksie op die are, wat veroorsaak dat plaatjies gevorm word en inflammasie intree, wat ’n hartaanval of beroerte kan veroorsaak.

Die amigdala is ook meer aktief in mense wat aan post-traumatiese stresversteuring, angs en depressie ly.

Die 300 pasiënte is opgevolg en 22 het ná gemiddeld 3,7 jaar wel ’n hartaanval of beroerte gekry. Hulle was aanvanklik gesond. Op die CT-skandeerbeelde kon die verhoogde aktiwiteit in die amigdala gesien word.

Voor dié studie, wat gelei is deur dr. Ahmed Tawakol aan die Harvard Mediese Skool, was die verband onbekend.

Die beheer van chroniese stres kan dus ’n belangrike voorkomende maatreël teen beroerte en hartaanvalle wees.

– Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.