Polisiebeamptes wat ’n verdagte motor by ’n padblokkade naby Darling ondersoek het, het “snuf in die neus gekry” dat onwettige perlemoen of kreef dalk in die voertuig vervoer is weens die stank wat nog daarin gehang het.
Die polisie het agterdogtig geraak oor die voertuig toe dit Donderdag 31 Augustus om 23:10 omgedraai het voordat dit deur die padblokkade sou ry, het kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, gesê.
Die polisiebeamptes het die voertuig gevolg en die bestuurder opdrag gegee om terug te draai na die padblokkade toe.
Die voertuig is ondersoek en die bestuurder, Whenli Zhen (32), ’n Japanse burger, is ondervra. Hy het die polisie na sy huis by Seemeeuslot, Fisherman’s Haven, in Yzerfontein, gelei, waar perlemoen en rotskreef van sowat R60 000 gevind is. Zhen is in hegtenis geneem en het Maandag (4 September) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.