Vier gewilde reekse is met vars inhoud terug op kykNET in April. Koppieteefontein, met die immer-innemende Jak de Priester as aanbieder, se sesde seisoen begin aanstaande Dinsdag (8 April) om 21:30.
Dit begin met die radio- en TV-
aanbieder Rozanne McKenzie, wat haar hart oopmaak. Volgende aan die beurt is die sanger en akteur Robbie Wessels, wat kykers ‘n kykie in sy lewe gee.
Jak gaan oudergewoonte kiekies uit sy gaste se foto-albums deel en hulle uitvra oor waarom dié foto’s vir hulle belangrik is. La’t wiel is op Dinsdag 15 April om 17:30 weer op die kassie en petrolkoppe gaan gewis genoeg kry om hul hart vinniger te laat klop.
“Soos gewoonlik weerspieël La’t wiel die huidige stand van sake in die Suid-Afrikaanse motorbedryf, en tans is China besig om ‘n reuse-impak op die motorwêreld te hê – ook hier by ons,” sê die vervaardiger en aanbieder,
Waldo van der Waal.
“Ons het ‘n string motors uit China getoets, onder meer die MG Cyberster, ‘n elektriese sportmotor wat jou
R1,4 miljoen uit die sak gaan jaag en omtrent die koppe laat draai.”
Motors uit ander lande kry ook ‘n beurt. “Die Duitsers by BMW het hul Mini onlangs opgeknap, en ons maak kennis met die nuwe Mini Cooper S, asook die elektriese weergawe van dieselfde motor. Ons kyk ook na gebruikte motors wat by WeBuyCars te koop is, soek ‘n paar winskopies en gesels met Giniel de Villiers oor vanjaar se
Dakar-veldtydren.”
Met ‘n huppel in die stap het gister (Woensdag 2 April) om 17:30 ‘n draai gemaak. Die aanbieders is Riaan Cruywagen, Jacqui January, Bettie Kemp en Simon Bruinders. In die nuwe seisoen word gepraat met seniors wat nuwe boeke gepubliseer het. Kundiges gee raad oor haarverlies en nuwe aftreelandgoedere word besoek.
Wie’s nuus? is van Woensdag 30 April af terug vir ‘n vyfde seisoen (om 21:00). Mia Spies praat weer met nuusmakers wat op almal se lippe is, en soos gewoonlik gaan sy nie skroom om moeilike vrae te vra nie. Mia het as student vir die eerste keer agter die mikrofoon by TUKS FM ingeskuif en sê sy het van daardie oomblik af geweet dit is haar roeping. “Ek is die gelukkigste met ‘n mikrofoon in my hand.”
Koppieteefontein begin op Dinsdag 8 April om 21:30. La’t wiel begin op
Dinsdag 15 April om 17:30. Met ‘n huppel in die stap het Woensdag 2 April begin. Wie’s nuus? begin op Woensdag 30 April om 21:00. Die nuwe seisoene van al vier reekse word op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.


