Die gemeenskap van St. Helenabaai se jare lange pleidooie vir ’n hoërskool vir dié kusdorpie kan dalk net vrugte afwerp.
Dít volg nadat die bou van ’n hoërskool onlangs goedgekeur is en die munisipale raad verlede week by ’n raadsvergadering eenparig besluit het om die ontwikkelingskoste vir die beoogde hoërskool af te skryf.
Hierdie stryd duur reeds die afgelope vier jaar. Ouers meen die bou van ’n nuwe skool sal net tot voordeel van die gemeenskap wees.
Volgens die gemeenskap was dit net toewyding, deursettingsvermoë en die wil om te baklei vir dit waarin hulle glo wat hulle tot by hierdie punt gebring het.
Die raadslid Thyrone Williams sê ouers was baie bekommerd oor hul kinders se toekoms omdat baie van hulle nie plek in skole gekry het nie. Die nuus bring weer hoop.
Williams meen al die aksies die afgelope tyd was gewis die moeite werd. “Ek het vir my gemeenskap gesê ons moet aanhou druk uitoefen en dit het vir ons as die hele gemeenskap van St. Helenabaai gewerk.”
Williams sê hulle verwag die skool sal so spoedig as moontlik gebou word en hy het ’n versoek aan die Wes- Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) vir mobiele eenhede gerig sodat die skool voorlopig kan begin. “Omdat ons vir vier jaar vir die skool baklei het, het ’n nege-jarige seun met die naam Leo Williams sy lewe tydens ons optog in 2020 [vir dienste] verloor. Ek wil daarop aandring dat die skool na hom genoem moet word ter herdenking van sy lewe,” voeg Williams by.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die WKOD, het by navraag gesê hoewel die voorsiening van ’n nuwe hoërskool in St. Helenabaai in die onderwysinfrastruktuur se beplanning vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement is, is daar in hierdie stadium nog nie ’n tydlyn vir die bou van die skool nie omdat die projek, soos alle ander infrastruktuurprojekte, “begrotings-afhanklik” is.
“…[Dit] word ook deur verskeie voorwaardes onderskryf, insluitend die gereedheid van geskikte grond, asook verskeie goedkeurings soos ’n omgewingsimpakstudie. Die ontwikkeling van die skool sal ook onderhewig wees aan openbare konsultasie en goedkeuring.”
Dit sal in alle waarskynlikheid nie in die huidige mediumtermyn-begrotingsraamwerk, wat tot 2027/28 geld, materialiseer nie.
Hammond sê die beplanningsproses sal wel begin moet word.
Inwoners is nietemin opgewonde oor die vordering wat gemaak is.
Lee-Anne Williams, ’n inwoner van St. Helenabaai, dank die Here vir hierdie goeie nuus. “Vir my as ouer is dit ’n geweldige verligting, want nou kan ons kinders nader aan die huis en in veiligheid skoolgaan. Ons hoef nie meer soggens en middae angstig te sit en wag en wonder of ons kinders veilig is, of daar genoeg busse vir die dag is, of moet my kind weer vandag ryloop nie.”
Sy bedank Williams en elke ouer van Laingville wat die opoffering gemaak het om hul stemme te laat hoor en wat gehelp het om te baklei vir daardie voorreg om te kan sê dat hulle uiteindelik een van die mooi dae hul hoërskool kan welkom heet.
Leatitia Isaacs, ook ’n inwoner, sê dit is ’n geweldige verligting en deurbraak ná al die baklei en als wat die gemeenskap moes deurmaak. “Ons is dankbaar vir die bou van die nuwe hoërskool, wat ’n groot behoefte en ’n noodsaaklikheid is. Die bou van die nuwe skool sal ons as ouers meer gerusstel, want ons kinders gaan soggens skool toe en sou daar probleme opduik of oueraande wees, is dit nou binne loopafstand,” sê Isaacs.