Sport het nou maar eenmaal net die vermoë om ’n nasie te verenig soos min ander dinge dit kan regkry. En in ’n sportmal land soos Suid-Afrika, is dit net die regte doepa om van tyd tot tyd te vergeet van al ons uitdagings, die tafel te dek vir ’n lekker rugby-, krieket- of sokker-aansit en daai stem hees te skree vir ons gunstelingspanne.
En hoe gepas was dit nie toe ons sommer hier reg aan die begin van Erfenismaand kon afskop met ’n lekker vet oorwinning oor ons aartsvyande op die rugbyveld nie. Daai oorwinning, wil ek glo, was en is om verskeie redes broodnodig. Een daarvan is die fenomenale impak wat dit op die psige het met betrekking tot nasiebou op kulturele vlak. Daai oorwinning het net weer kom bevestig wat ons kan vermag as ons as ’n nasie saamstaan. In tye as dit nie so goed gaan aan die sportfront nie, maar veral as dit wel tot ons voordeel uitwerk.
Ons vele geleerde kommentators op sosialemediaplatforms sal altyd ’n mening van die teenoorgestelde kant hê, maar dié kan ons verstaan, veral as ons in ag moet neem dat hulle steun en stem altyd in die guns van die manne oorkant die waters sal wees. Oor die jare het ons geleer om met mekaar saam te leef en ter wille van ons liefde vir sport die vrede te bewaar. Die afgelope spogvertoning van ons manne in groen en goud het opnuut ons nasietrots kom aanwakker. Die terugveg ná die vorige loesings op die veld was epies van aard. En daai manne in groen en goud vertel die storie van ons as land, wat ons kan vermag as ’n nasie as een saamstaan en weier om moed op te gee.
Wat die oorwinning nog soeter gemaak het, was die samestelling van ons span, wat ons reënboognasie verteenwoordig. Daar is nog ruimte vir verbetering, maar ons het al goeie vordering gemaak. Die waagmoed om ook ons jong Bokke die blootstelling en geleentheid te bied, is ook prysenswaardig. En wat ’n absolute fees as die resultaat daarvan in ons guns tel. Die hele land juig saam. Vir daai oomblik vergeet ons almal van die miljoene wat gesteel is, die gat in die pad wat met groot bravade en kiekies daarby “reggemaak” is en die oom wat net sal getuig as hy ’n ketel gaan kry.
Net soos aan die rugbyfront het ons van ons ander sportkodes ook soveel trots by ons as landsburgers kom inboesem. Net as die skades en skandes aan die politieke front die oorhand wil kry, kom wys ons land se mense binne die arena van sport waartoe ons in staat is. Ja, ook hier het ons al die impak van interne gevegte gesien, maar gou besef dat politiek in sport groot skade kan aanrig.
Los maar eerder die politiek vir dié wat tans vir ’n groot oorwinning in 2024 baklei. Vir nou wil ons as nasie vashou en voortbou aan ons suksesse op en weg van die sportveld af; wil ons aanhou om met lof te praat van ons vrouesokkerkampioen wat hul staal gewys en ons landsvlag hoog laat wapper het.
Ons wil die oorwinnings van elkeen in Birmingham salueer en saam die oorwinning van ons ster by vanjaar se Comrades luidkeels besing, want dis wie ons is – Suid-Afrika, ’n land van wenners. Wen of verloor, ons staan by en bankvas agter julle. En ja, ons lekker sin vir humor het ons nog altyd deur daai slegte verloortye gehelp, en as die grappies nie help nie, het ’n paar stukkies vleis en wors oor die kole met genoeg natmaakgoedjies daarby om die ergste verloorverdriet af te spoel. Daai nabetragting by so ’n saamkuier is iets om te aanskou. Die beste span vir die volgende naweek se span word sommer dadelik aangekondig.
Die geskerts en spot met van ons sukkelende spanne is daar ook genoeg van. Soos een vriend ’n paar weke gelede uit die bloute laat val het: “Ai, dit sal darem lekker wees as ons nasionale mans-sokkerspan kan plekke ruil met ons manne op die rugbyveld . . . ek wil net iets sien!” Nou ja, die uitdagings sal daar altyd wees en dit moet so wees, want hoe anders sal ons kan groei. En weg van die sportarena is daar ook die kunste wat ons hierdie Erfenismaand verder aan ons pragtige gedeelde erfenis sal herinner en waar ons weer die voorreg sal hê om deur taal en voordrag die uniekheid van ons verskeidenheid as ’n nasie kan vier. Eg Suid-Afrikaans, maar ook eg in die styl en aanslag van ons elkeen se unieke komvandaan.
Of dit nou sport of die kunste is – ons het inderdaad ’n wonderlike gedeelde kultuur waarmee ons maar met trots kan spog. En hoe wyer en toegankliker ons daardie kultuur maak, hoe mooier die erfenis wat dit vir die volgende geslag nalaat.
Ek is trots Suid-Afrikaans!