Dit was voorverlede naweek só teleurstellend om afbrekende opmerkings op sosiale media te lees oor onder meer Manie Libbok se skopvermoë tydens Suid-Afrika se eerste van twee kragmetings teen Argentinië.
Swak sportmanskap – daar is werklik geen ander manier waarop dit beskryf kan word nie.
’n Mens kan nie help om te wonder of daar ook sulke grootskaalse kritiek sou wees indien ons daardie wedstryd gewen het nie. Die spel die afgelope naweek, wat nie net vir ons die wedstryd teen Argentinië gewen het nie, maar ook die rugbykampioenskapsbeker, was ook nie elke oomblik perfek nie – tog het dit die gewenste uitwerking gehad.
Dit sê baie van die Bok-breier, Rassie Erasmus, se leierskap om hom nie te steur aan druk van buite om Libbok uit die 15-tal wat Saterdag uitgedraf het, te sny nie, maar hom eerder die geleentheid te bied om sy spel te verskerp. Dit het Saterdag in Nelspruit goeie vrugte afgewerp.
Wat baie sukkel om te verstaan, is dat daar ’n groot las en druk op veral ’n skopper se skouers rus wat ’n nasionale span met internasionale status verteenwoordig. Om spelers af te breek wanneer dinge nie volgens plan verloop nie, is onregverdig en kortsigtig.
Aan die einde van die dag moet ons onthou dat hierdie spelers ook maar net mens is. Hulle het ook gevoelens. Hulle het ook toegang tot sosiale media. Hul kinders, familielede, eggenote en geliefdes word seergemaak deur die skokkende opmerkings wat aanlyn gemaak word.
Hierdie gedrag, wat geen plek in sport het nie, is ook sigbaar op plaaslike vlak. Ons betree nou juis die immergewilde Sanlam-Boland-Top-12-rugbyreeks. Ons spelers gee hul alles in ’n poging om hul klubs te laat presteer. Kom ons gebruik liewer hierdie energie om spelers op te bou – hulle het net ons positiewe bydrae nodig.