Adjudant-offisier Trudie Matthee van die Vredenburg-speurtak het onlangs haar verborge kunstalent ontdek.
Matthee sê die “pottebakkers-gogga” het haar gebyt toe sy twee jaar gelede ’n paar pottebakkersklasse by ’n vrou in Velddrif geneem het.
Wanneer dié speurder klaar is met haar uitputtende werksdag vol strafregtelike ondersoeke en misdadigers vastrek, sal jy haar dolgelukkig met haar hande vol klei by die huis vind.
Haar nuutste beeldhouskepping wat haar siening van die Covid-19-siekte versinnebeeld, het haar kollegas só beïndruk dat hulle ’n foto van die besondere kunswerk aan Weslander gestuur het.
Die kleurvolle klei-kunswerk is sowat 30 cm hoog en 20 cm breed en is ’n aardbol wat deur ’n man omhels word. Die man se kop wat op die aardbol rus, lyk soos die mikroskopiese beeld van die Covid-19-virus wat deurlopend in die media gebruik word. Die virus se herkenbare proteïen-uitsteeksels is die kleiman se hare. Daar lê ook ’n stetoskoop oor die aardbol, met die woord Covid-19 in helder rooi daarop geverf.
Matthee is baie beskeie oor haar werk. Sy erken sy is dankbaar, maar tog skaam, oor al die komplimente en sê sy leer nog. Volgens haar is sy haar eie grootste kritikus.
“Ek het ook ’n pottebakkerswiel by die huis, maar ek hou nie daarvan nie, want ek het twee linkerhande,” spot sy.
“Ek verkies om my kunswerke met my hande te vorm. Dis baie lekker en ontspannend.”