’n Polisiespeurder is gister (26 Julie) in Moorreesburg in hegtenis geneem in verband met ’n skietvoorval in Schoongezichtstraat in Wellington, waarin sy eksmeisie gewond is en haar vriend doodgeskiet is.
Hy het glo vanaf die toneel gevlug.
Brig. Novela Potelwa, provinsiale polisiewoordvoerder, het die arrestasie aan Paarl Post bevestig.
Die speurder se eksmeisie is beseer, terwyl haar vriend, die 49-jarige Petrus Jacobs van Chicago in Paarl-Oos, noodlottig gewond is. Paarl Post kan bevestig dat Jacobs wel die oorledene is.
LEES OOK: Wellington: Polisieman skiet glo sy meisie se beweerde vriend dood
Die speurder se eksmeisie is glo van Sidneyvale-straat in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte, het Netwerk24 berig.
Volgens kolonel Johan Barkhuizen, polisiewoordvoerder in Wellington, het die voorval omstreeks 14:40 plaasgevind.
“Volgens inligting vanaf die toneel het die polisielid by die oorledene se woning opgedaag en die vroulike slagoffer, met wie hy voorheen ’n verhouding gehad het, genader. Nadat hy haar opsy geneem en met haar gepraat het, het hy glo op beide die man en die vrou losgebrand,” het Potelwa gesê.
Dit is nog nie duidelik aan watter polisiekantoor die verdagte speurder verbonde is nie.
Hy is in hegtenis geneem op aanklagte van moord en poging tot moord en sal binnekort in die hof verskyn.





