“As iemand in die nag hierdie vuurwapen op jou rig, gaan jy nie noodwendig weet dit is net ’n speelding nie.”
Só sê kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, nadat ’n speelgoed-vuurwapen in die besit van ’n vermeende huisrower gevind is.
Weslander het verlede week berig oor drie huisrooftogte wat in een week in Vredenburg uitgevoer is.
Net ’n paar dae ná hierdie rooftogte het boosdoeners weer ’n huis in die nagtelike ure in Vredenburg geteiken.
Volgens Helfrich is drie verdagtes vir hierdie nuutste huisrooftog, wat op 16 Januarie plaasgevind het, aangekeer.
Drie rowers het om 23:25 ’n deur van ’n huis in Langstertjiestraat oopgebreek en ’n huisbewoner (33) met ’n panga gedreig.
’n Selfoon, geld en juwele is in die voorval gebuit.
Die polisie het al drie verdagtes op 19 Januarie in hegtenis geneem. Hulle is onderskeidelik 35, 22 en 20 jaar oud.
“Een van dié drie is in Pleinstraat in Vredenburg voorgekeer, en hy is gevra om deurgesoek te word. Die verdagte het toe erken dat hy ’n speelgoed-vuurwapen in sy besit het,” het Helfrich gesê.
Die polisie het toe die speelgoed-pistool, of te wel nagemaakte vuurwapen, by die verdagte gevind.
Die lede het ook ’n 9mm patroon, dagga, twee ID-dokumente en ’n selfgemaakte mes by hom gevind.
Al drie verdagtes het Maandag (23 Januarie) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.