Die eerste Vrystaat-span wat die Curriebeker gewen het, die span van 1976, het die afgelope naweek hul 40ste reünie in Langebaan gehou, met 14 van die 15 oorlewende spelers wat die feesvieringe kon bywoon. Dawie Boonzaaier het Saterdagaand saam met die legendes by die Langebaan Yacht Club gekuier.
Daar kan nie ‘n groter paar hande in die land wees nie.
Theuns Stofberg, oud-Bokkaptein, poseer eers vir ‘n foto saam ‘n aanhanger of drie, verdwerg ‘n rugbybal as hy sy handtekening maak en vertel dan die span eet vanaand “weer WP-vleis,” soos destyds gemaak is toe die Vrystaat 33-16 met die WP in die 1976-eindstryd in Bloemfontein klaargespeel het om Vrystaat se eerste Curriebeker te wen.
“Willouw van Niekerk, ‘n oud WP-stut, het ‘n slaghuis in Calvinia en hy het die twee skape vir die spit geborg. Ons moet eers ‘n foto van die manne rondom die spit kry,” sê-vra Stofberg en begin solank sy spanmaats nader hark.
Legende na legende kom neem hul plek rondom die skaap in. En ons praat van groot name; Gysie Pienaar, Joggie en Eben Jansen, Gerrie Germishuys, De Wet Ras.
Altesaam 15 van die groep van 19 spelers wat in die glorieryke veldtog betrokke was, was reeds of sou later Springbokke word toe die eindstryd in ’76 gespeel is. Dit was ongehoord destyds dat een span soveel Springbokke kon oplewer.
Hoe het hulle nie meer Curriebekers gewen nie?
“Luck of the bounce,” vertel skrumskakel Barry Wolmarans. “En swak beslissings.” “Ek haat tot vandag toe ‘n ref,” spot sy skakelmaat Ras saam.
In die 70s alleen het die Vrystaat in vyf Curriebeker-eindstryde gespeel, maar die aand het nie gegaan oor die eindstryde wat nie gewen was nie.
“Daar was net soveel vertroue in mekaar, jy was nooit bekommerd nie,” prys Pienaar sy spanmaats.
Die agterlyn van ‘76 alleen dra selfs dalk tot vandag toe die titel as die mees talentvolste agterlyn wat die Curriebeker ooit gesien het.
Bok op Bok op Bok, maar met meer as een resep vir sukses.
“Vir daai teenaanvalle (van ons) moes jy guts hê,” begin Germishuys vertel, “En vertroue in mekaar,” val Pienaar hom in die rede, met Edrich Krantz, die derde hoek van die giftige agterste driehoek, wat die manne se woorde beaam.
Krantz het daardie middag saam met Wolmarans en die agsteman Tiny du Plessis vir die Vrystaat gedruk.
Losskakel Ras het al drie drieë verdoel, drie strafdoele oorgeklits en ‘n skepdoel oorgesit (‘n destydse rekord van 18 punte in ‘n eindstryd), voor sy skakelmaat vir oulaas sout in die wonde gevryf het met ‘n skepdoel van sy eie.
Wat die oorwinning nog meer merkwaardig gemaak het was die feit dat die Vrystaat vroeër die jaar twee ligawedstryde teen WP verloor het.
Die befaamde Bok-senter Joggie Jansen vertel hoe die WP se senters, Peter Whip en Johan Oosthuizen, veronderstel was om kringe rondom hom en sentermaat Dirk Froneman te moes hardloop.
“Ek’t gelukkig al geleer, jou eerste kennismaking met daai opponent moet jy laat tel. Toe sê ek vir hom,” en Jansen beduie na Froneman se kant toe, “Peter ken vir my, hy gaan nie toelaat dat ek hom tackle nie, jy moet vir Oosthuizen looi.”
Jansen aarsel so bietjie voor hy verder vertel: “Hy’t toe vir hom getackle, daai eerste tackle.”
“Ek was eintlik toe al ‘n has-been,” vertel Jansen verder. “Die koerante skryf toe ek moet liewers ophou dat hulle twee (Froneman en Jan Schlebusch) moet speel.”
“Toe stap die klein mannetjie,” en Jansen beduie weer na Froneman, “in my kantoor in voor die eindstryd en kom snou my dieselfde goed toe. Ek dog wat gaan met die man aan. Hy sê toe vir my, met trane in sy oë: ‘Jy hoef niks te doen nie, ek sal dit vir jou doen.’ Nou dis die ding.”
Voor Jansen kan aanpraat val Schlebusch hom in die rede: “Ek het gegaan na Nelie (Smith, afrigter) toe, die Dinsdag voor die eindstryd, want ek het gesien hoe oefen hy (Jansen). En ek stap toe na Nelie toe en sê: ‘Oom Neels, as jy nou ‘n moerse fout Saterdag wil maak, dan moet jy nou vir my in Joggie se plek laat speel.’”
“Haai, jis Jan, dankie,” druk Jansen liggies op Schlebusch se voorarm.
Smith, wat later die Springbokke sou afrig, is in Mei vanjaar op die ouderdom van 81 aan hartversaking oorlede.
Die span was dit eens “Oom Neels” was “voor sy tyd” en ‘n “visionêr”, sonder wie die Curriebeker dalk nie in ’76 staanplek in Bloemfontein sou kry nie.
“Dit help natuurlik ook dat die ouens saam wie ek gespeel het, die beste in die wêreld was,” verduidelik Froneman die span se suksesverhaal.
“Ons het mekaar net verstaan man. Dit was harde werk, maar dit het later gekliek. En dis nie net ons nie, selfs die vroue het net so gegel,” verduidelik Schlebusch.
Van die vier spelers wie oorlede is, Rampie Stander, Wouter Hugo, die kaptein, Martiens le Roux, en Klippies Kritzinger, het Le Roux en Kritzinger se vroue ook die reünie kom bywoon.
Noel van Rensburg is die enigste oorlewende speler wat nie die reünie kon meemaak nie, en dit oor hy verpligtinge in Italië gehad het.
“Dis wat hierdie span so special maak,” vertel Stofberg. “Ons is bereid om hierdie tipe moeite vir mekaar te maak.”
“Nou wat sê dit vir jou?” vra Jansen later met ‘n breë glimlag op die gesig.