Danksy die span van Gemeenskapkorreksies van Vredenburg sal die 12 kinders van die Mei-kabouters-kleuterskooltjie in Noordhoek, Velddrif, ’n warmer en beter skooldag hê.
Lede van die plaaslike Korrektiewe Dienste-span was op Mandeladag (Maandag 18 Julie) in Velddrif, Saldanha en Vredenburg en het verskeie gemeenskapsprojekte uitgevoer.
Mandela-dag is ’n dag van liefdadigheid wat sedert 2009 elke jaar gevier word deur liefdadigheidswerk of gemeenskapsinisiatiewe.
Volgens Marina Mei, wat die kleuterskool bestuur, sal die werk van die beamptes gewis ’n positiewe uitwerking op die daaglikse bedrywighede van die skool hê. “Ek verjaar [Dinsdag], so ek sien hierdie sommer as ’n vroeë verjaarsdaggeskenk vir myself ook,” lag Mei. Werk is aan die skooltjie se dak en vloer gedoen en sop-en-brood-skenkings is ontvang.
Dié het Mei later die dag aan kinders in die gemeenskap uitgedeel.
Die Korrektiewe Dienste-beampte Bradwin de Villiers, wat aan die stuur van die dag se projekte was, meen dit is belangrik om na die gemeenskap uit te reik. “Mense het die idee dat ons net in die gemeenskap werk om hulle in die tronk te sit, maar dit is belangrik om op ’n opbouende manier deel van Weskussers se lewe te wees,” meen hy.
De Villiers sê hoewel geld vir uitreike soms beperk is, help skenkings soos dié van Bright Field Projects in Langebaan. Dié maatskappy het materiaal geskenk wat gebruik is om die jongspan van Mei-kabouters te help.
In Vredenburg het beamptes gehelp om kos by Sisonke uit te deel en in Saldanha het beamptes saam met die polisie ’n deur-tot-deur veiligheidsbewusmakingsveldtog gehou.