’n Groot gees in die gemeenskap van Saldanha is die naweek oorlede. Dr. Constant Laubscher Neethling, wat jare lank in die dorp gepraktiseer het, is Saterdag (2 November) dood nadat pankreaskanker vroeër by hom gediagnoseer is. Hy was 80 jaar oud.
Neethling het sy mediese studies in 1969 voltooi en in 1971 in Saldanha en Vredenburg in vennootskap met dr. Chris Liebenberg en dr. Benna de Jongh begin werk. Hy het in 1988 ’n vennootskap met dr. Kobus Bruwer aangegaan en ook as voorsitter van die Weskus-tak se mediese vereniging gedien.
Bruwer vertel dat hy destyds by die Vredenburg-hospitaal gewerk het en graag sy eie private praktyk wou open.
“Dr. Neethling het ’n eenmanpraktyk in Saldanha gehad en ek het in 1988 as vennoot by die praktyk begin werk. Dr. Neethling was te alle tye opgeruimd en het altyd tyd vir ’n grappie gehad. Hy het baie welsynwerk gedoen,” vertel Bruwer.
Bruwer beskryf Neethling, wat welbekend in die hele omgewing en in perdrykringe was, as ’n baie wyse man en iemand by wie hy baie geleer het. “Een ding wat my sal bybly, is jy neem nooit ’n groot besluit gou nie. Jy moet eers daaroor slaap, en dan kan jy jou besluit neem. Hy was gesond genoeg om eers op 70 jaar op te hou werk.”
Sy familie beskryf hom as iemand wat ’n stuitige humorsin gehad het. “Hy was lief vir mense en hul stories en sy huis was altyd oop vir mense, veral buitelug- en perdry- en diereliefhebbers. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie, [hy] was definitief ’n boer wat altyd ’n plan gemaak het,” meen die familie.
Sarie Koegelenberg, wat 30 jaar gelede as verpleegster saam met Neethling gewerk het, sê sy pasiënte het altyd eerste gekom. “Hy was ’n mense-mens, altyd vriendelik en bedagsaam. Wanneer hy in die nag uitgeroep is vir pasiënte in ’n noodgeval, was hy gou op sy pos.”
Neethling het ’n vol lewe geleef en het deur die jare as voorsitter van die provinsiale hospitaal in die jare tagtig gedien, sowel as voorsitter van die Ruiterpad-vereniging van Suid-Afrika en is net voor sy dood erelidmaatskap toegeken. Hy het ook vir baie jare vrywilligerswerk by die Sandveld-hospies asook by die Vital Connection-sentrum vir bejaardes gedoen.
’n Begrafnisdiens word Saterdag (9 November) om 11:00 in die Saldanha NG kerk gehou.
Neethling laat sy vrou, drie dogters en agt kleinkinders agter.