Die Lethemba Care Projects-span het in hul eerste jaar besoek afgelê by die Vredenburg- provinsiale hospitaal se kinderafdeling en noodsaaklikhede sowel as lekkernye en worsrolletjies oorhandig.


Lethemba Care Projects vier vanjaar sy eerste bestaansjaar.

Volgens Gerald Pieters, stigter van die organisasie, was die afgelope jaar baie produktief met baie hoogtepunte. Pieters sê hoogtepunte wat uitgestaan het, was die Kersete vir die bejaardes en die vakansieprogram met minderbevoorregte jongmense, wat hulle Sunnypark toe geneem het vir ’n bederf. “Dit alles kon ons doen met ’n klein begroting en skenkings. Dan ook ons Mandeladag- uitreikingsprogram waar ons verskillende projekte op een dag gedoen het,” vertel Pieters.

Pieters verduidelik dat Lethemba gestig is vanweë sy passie vir die gemeenskap en die visie en mandaat wat die Here hom gegee het. “Ons visie is om geleenthede vir groei in die gemeenskap vir die minderbevoorregtes te skep met die doel van positiewe verandering deur middel van vier programme – ’n gesondheid-sopkombuis, ’n restourasie- program, jeugontwikkeling en vaardigheidsontwikkeling.”

Deur hierdie programme mik hulle om hoop, geloof en vertroue in mense se lewe te herstel. Vir die jare vorentoe sien Pieters die organisasie in alle aspekte groei. Hy glo met die hulp van die gemeenskap – hetsy dit skenkings of dienste is – sal dit van waarde wees. Pieters bedank ook almal wat bydraes gelewer het en gehelp om hul droom te kon uitleef vir die eerste bestaansjaar.

Met hul eenjaarvieringe vind ’n diens plaas by Sharon Pentecostal Ministries in Vredenburg op Sondag 28 April om 09:00. Die middag vind ’n dankseggingskonsert om 17:00 plaas by die Hoërskool Weston.

Gaste kan uitsien na kunstenaars soos Peliwe Mbange, Pearl Adams, Varonica Meyer en meer. . Kaartjies kos R100 en is beskikbaar by Checkers/Shoprite en Computicket.

You need to be Logged In to leave a comment.