Verlede jaar gesels ek met ‘n verpleegster wat vir Dokters sonder Grense (MSF)* in gevaarlike lande werk.
“Veiligheidsmotors begelei ons elke dag werk toe. Selfs wanneer ons op afdae mark toe gaan, kry ons beskermers. Ek werk tans in ‘n droewe land, waar selfs die hoendertjies in ons agterplaas nie vet raak nie. Maar soggens op pad werk toe gee twee rye sonneblomme my hoop,” vertel sy.
Dit bly in my kop draai hoe sonneblomme ‘n simbool van hoop en positiwiteit in ‘n barre omgewing kan wees. Terwyl sonneblomme daagliks hul koppe na die son draai, is hulle mooi en inspirerend én elke blom bied voeding vir mens en dier.
Verlede week het sonneblomme vir my nuwe hoop gebring toe ons ná ‘n vreeslike verdwalery uiteindelik die pad uit Johannesburg kon vind en sonneblomme midde-in die Hoëveldse onweer sien blom.
Die verdwalery was onnodig. Eers tik ons Bloemfontein as bestemming in, maar toe neem Google Maps ons na ‘n plot met die naam Bloemfontein, regoor ‘n woonbuurt vol geroeste sinkplaathuise en wapperende plastieksakke.
Heeltemal gestres, vra ons Google Maps om ons na die N1 te neem, maar Vriend Google wys ‘n bestemming iewers teen die Lesotho-grens, vier ure verder.
Met ons volgende pogings verduidelik die soekfunksie hoe ons moet ry sodra ons die N1 bereik. “Verduidelik my net hóé om die N1 te vind, dêmmit,” hoor ek hier langsaan my. “Kry tog net common sense,” brom ons kinders later.
En ek wonder: Hoeveel mense sukkel met dieselfde probleem – hulle weet hulle moet matriek of hul kursus slaag, of ‘n nuwe werk of kerk kry, maar hulle weet glad nie hóé om daardie lewensdoel te bereik nie.
Ons almal beleef tye wanneer die lewe se GPS jou uitgooi by ‘n onveilige plot, wanneer jy weet waar jy wil uitkom, maar ‘n kraaines vol probleme maak jou kop deurmekaar. Wanneer mense ná ‘n egskeiding of die dood van ‘n geliefde ‘n nuwe lewe bou, maar geen doeltreffende GPS het oor hoe om uitdagings te oorwin nie, sukkel hulle. Hulle wil; hulle weet wat hul beoogde doelwit is, maar dis moeilik om hul nuwe “N1” te vind.
En ek besef hoe dikwels het mense klein stukkies praktiese hulp nodig om hul doel te bereik – hulp om jou CV by te werk; blyplek vir ‘n maand; ‘n rygeleentheid of hulp met ‘n aansoek by Binnelandse Sake; iemand wat regtig luister en prakties help wanneer tye skielik rof raak; dalk net ‘n bed met ‘n sagte kussing waar jy kan gaan lê en huil.
En ek wonder: Is my ondersteuning vir die mense rondom my positief, of tree ek dalk soms op soos ‘n foutiewe GPS? Gee ek hoop soos die sonneblom, of lyk ek soos ‘n treurwilg wat self droogte in my gemoed beleef?
• Dokters Sonder Grense (MSF) is ‘n humanitêre organisasie wat wêreldwyd kundige mediese hulp bied.


