Silwer randjies is maar min in Suid-Afrika se “perfekte ekonomiese storm”.
Christo Botes, president van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), het verlede Woensdag terugvoering aan plaaslike sakelui gegee oor versoeke van die AHI en ander topsakelui aan die regering in onlangse samesprekings voor die lewering van die staatsrede verlede Donderdag.
Volgens Botes, gasspreker by die algemene jaarvergadering van die Weskus Sakekamer te Juffroushoogte, is ons tans kniediep in een van die ergste ekonomiese uitdagings nog met ’n dreigende verdere afgradering van ons kredietstatus.
Ekonoom Mike Schussler noem dit die perfekte ekonomiese storm. Negatiewe seine sluit in die droogte wat afstuur op ’n humanitêre krisis met etlike plaasgemeenskappe reeds sonder water.
Die dalende prys van kommoditeite soos ystererts is nog ’n faktor. Ystererts se prys was in Augustus 2014 net mooi 140$ per ton. Dit is tans net oor die 40$ per ton. Verder het die tonnemaat-uitvoer ook drasties afgeneem van 41 miljoen ton per jaar in 2010 tot 27 miljoen ton per jaar verlede jaar.
Werkloosheid neem toe. Die rand het met 58% in waarde sedert 2011 geval en die regering se lukrake bestuur ontmoedig vertroue by beleggers.
As silwer randjie het Botes genoem dat die ekonomiese uitdagings meer gesprekke tussen sakelui en die regering meegebring het. Sakelui soek stabiliteit en die versekering dat die regering planne sal deurvoer.
“’n Mens moenie ’n krisis laat verbygaan nie, maar dit gebruik. Die regering vra hulp met fiskale dissipline en om staatskorporasie beter te laat funksioneer.”
Hy het plaaslike sakelui aangemoedig om met hul plaaslike owerheid hande te vat.
“Ons kan ons in ’n resessie inpraat of besluit om iets daaraan te doen.”
Ná drie termyne as voorsitter het Johan Vorster uitgetree en is Wilhelm Herbst eenparig as voorsitter verkies. Herbst was ook voorsitter in 2011 en 2012. Die ander lede in die bestuur is Mario Green, Frank Pronk, Hans Gerhardt, Dirk Bezuidenhout en Shandre Summers.
Die Weskus Sakekamer is geaffilieer by die AHI. Die ledetal was einde 2015 altesaam 162 lede wat dit een van die grootste plaaslike sakekamers maak.