Vier Vrydag 1 Februarie Wêreld-hardopleesdag en help die kleinspan om met begrip te lees.
Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) het sedert 2011 sistemiese toetse vir graad 3, 6 en 9 begin implementeer wat ’n aanduiding gee van leerders se leesvermoë.
“Dit is ’n belangrike hulpbron vir die WKOD om die leerders se taal en wiskundige vermoëns te bepaal sodat ons spesifieke gebiede kan identifiseer waar verbeter kan word en waar skole hulp nodig het om hul uitslae te verbeter,” het die provinsiale minister van onderwys, Debbie Schäfer, in ’n verklaring gesê.
Volgens 2018 se uitslae het 45,5% van graad 3-leerders hul toetse geslaag. Volgens die departement is ’n afname in hierdie leerders se skryfvermoë ook gevind.
In 2011 het 40,9% van graad 6-leerders voldoen aan die toetse se vereistes wat tot 44% verhoog het in 2018. Die departement sê hoewel hierdie leerders beter kan skryf, sukkel hulle met redenering, wat ’n aanduiding kan wees dat kinders nie met begrip lees nie. Graad 9-leerders het verlede jaar 2,2% beter as hul klasmaats in 2011 gevaar wat hul taalvermoë betref.
Volgens Afrikaans.com, wat bestaan uit verskeie organisasies met ’n passie vir taal wat streef om te vier en te verken, kan hardop lees ’n groot impak op kinders se leesvermoë maak.
Die organisasie het met Hannekie Verwoerd, spraak- en taalterapeut, oor hardop lees gesels.
“Voorlees maak kinders nie lui om self te lees nie. Omdat voorlees jou kind se taalvermoë stimuleer, is voorlees eintlik tot op ’n baie laat ouderdom noodsaaklik om jou kind self aan die lees te hou. Wanneer die kind gereed is daarvoor, begin hy self lees, want dis vinniger. En hy wil vinniger lees, veral as hy ’n boeiende storie het om te lees,” meen Verwoerd.
. Afrikaans.com deel ook ’n paar wenke vir hardop lees, in enige taal:
1.
Konsentreer
Wees seker dat kinders nie met ander dinge besig is terwyl daar gelees word nie. Verwoerd meen kinders moet hul volle aandag gee.
2.
Dis nie slaaptydstories nie
Voorlees is nie dieselfde as slaaptydstories nie. Slaaptydstories is meer gemik om ’n band met kinders te vorm. Voorlees is meer soos skoolwerk. Kinders moet op en wakker wees as jy vir hulle voorlees. Al is dit iets wat hul brein baie geniet, is dit harde werk vir hul brein om aandagtig te luister. Kinders moet tog nie boeke met slaap verbind nie.
3. Weer! Weer! Weer!
Indien kinders ’n gunstelingstorie het wat weer en weer voorgelees moet word moet jy bly wees, meen Verwoerd. ’n Gunstelingstorie beteken kinders se brein hou van wat dit kry en wil nog daarvan hê. Wees seker om die storie altyd op dieselfde manier voor te lees. Kinders wil dieselfde woorde op dieselfde bladsy hoor. Hul brein sal later vir hulle sê: “Nou gaan dit gesê word.”
4. Lees lank genoeg
Dit is belangrik om vir minstens 20 minute op ’n slag hardop te lees. Kinders se brein moet oefen om aan te hou om aandagtig te luister.