Vrese en kommer voor die eksamen is algemeen in huishoudings, veral by kinders.
Die vrees dat jy gaan druip of dat jy in die eksamen skielik niks gaan onthou nie, is ’n werklikheid en jy slaan in angssweet uit.
Cindy Glass, direkteur en medestigter van Step Up Education Centres, sê die vrees, angs en afgryse vir die eksamen word al geslagte lank van die een na die ander oorgedra.
Step Up Education Centres is in 2016 gestig en is ’n naskoolse remediërende en onderrigagentskap wat kinders help om sukses op skool te behaal.
“Die stories is vir ons almal oorbekend: ‘Jy kan druip!’ ‘Daar is te veel werk om te memoriseer’. ‘Jy skryf vir die eerste keer eksamen, sterkte dáármee!’ ”
Volgens haar is die lys van dinge wat aan leerlinge gesê word, eindeloos en skrikwekkend.
Glass troos dat dit nie so hoef te wees nie.
“As ouer is dit jou verantwoordelikheid om ’n positiewe, motiverende omgewing in die huis te skep.
“Vergeet van jou eie vrese oor jou eksamen. Toon altyd belangstelling in jou kind se vordering en stel ’n voorbeeld van positiewe vasberadenheid, want kinders gaan waarskynlik altyd doen wat jy doen en nie wat jy sê nie,” sê Glass.
Hier is haar agt wenke aan ouers oor hoe om die eksamen aan te pak:
. 1. Stel die voorbeeld:
Jy is die eerste onderwyser. Jy as ouer stel die toon in die huis en moet versigtig wees dat jou vrees vir eksamen nie jou kind beïnvloed nie. Gryp eksamentyd aan as ’n geleentheid om te groei en te leer en skep ’n atmosfeer van opwinding – veral as jou kind die eerste keer eksamen skryf.
. 2. Wees georganiseerd.
Jy en jou kind moet ’n ruimte skep waar jou kind kan studeer. Geen selfone mag in dié ruimte wees nie en ander dinge wat jou kind se aandag kan aftrek, moet verwyder word. Voor ’n studiesessie moet julle besluit wat geleer moet word en hoeveel tyd daarvoor nodig is. Maak seker dat al die studiemateriaal, skryfbehoeftes en ’n skryfblok daar is voordat die studiesessie begin.
. 3. Verdeel die werk.
Soms is die werk te veel om op een slag te leer, dus gaan jy dit moet verdeel in kleiner dele wat jou kind kan hanteer. Namate julle ’n gedeelte afhandel, merk dit af van die lys en vier alle positiewe vordering.
. 4. Skryf alles neer.
Moedig jou kind aan om alles wat geleer word, neer te skryf. Die kanse om nuwe inligting te onthou is sewe keer beter wanneer dit neerskryf word terwyl jy leer.
. 5. Stel doelwitte.
Skryf realistiese en bereikbare doelwitte neer en plak dit teen die muur van die studieruimte.
. 6. Gaan van maklik na moeilik.
Begin by die maklikste werk en takel die meer uitdagende werk later.
. 7. Gee net jou beste.
Leer altyd jou kind om sy of haar beste te lewer. As hulle die moeite doen, sal hulle die vrugte daarvan pluk.
. 8. Wees positief.
Bestuur jou kind se vrese en angs deur dit met positiewe denke te vervang.
Leer jou kind om in sy of haar eie vermoë te glo, uitdagings te oorkom en doelwitte te bereik.