Matrikulante aan die Weskus het verlede Dinsdag (21 Oktober) met hul Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen (NSS) begin. Hierdie jaar sal 77 442 kandidate die NSS-eksamen in die Wes-Kaap aflê.
Tyler Jacobs van Longacres Privaatskool, het gesê sy voorbereidings vir die eksamen verloop goed.
“Ek het ‘n studierooster gevolg wat my help om al my vakke te balanseer en meer te fokus op dele waar ek sukkel. Ek hersien gereeld vorige vraestelle en maak seker dat ek kort pouses neem sodat ek myself nie uitbrand nie.”
Wat die stres van die eksamen betref, het Jacobs gesê hy probeer kalm bly deur te bid, te stap en na musiek te luister. “Ek herinner myself ook daaraan dat ek so goed as moontlik voorberei het en dat te veel stres nie die uitkoms sal verander nie.”

Hill-Mari Waterboer van die Hoërskool Weston het gesê haar voorbereiding vir die eksamen verloop goed. Sy gebruik ook ‘n studierooster, wat dinge makliker maak. Een van die vakke waarvoor sy versigtig is, is besigheidstudies. “Jy weet nooit wat om te verwag wanneer dit by daardie vak kom nie, maar ek beplan om op die moeilike vakke te fokus sodat dit minder stresvol kan wees.”

Wilmore Daries van die Hoërskool Vredenburg het gesê hy sien uit na die gevoel om die eksamen te voltooi. “Daardie gevoel van verligting en prestasie wanneer jy uit die laaste eksamenlokaal stap en weet jy het jou alles gegee… Dis opwindend om te dink wat volgende kom – die vryheid, die planne vir ná matriek en net te sien hoe ver ons almal gekom het.”
Daries moedig alle matrikulante aan om bestendig te bly, gegrond te bly en in hulself te glo. “Moenie jou vordering met ander vergelyk nie; almal se reis is anders. Onthou hoekom jy begin het en hou aan druk – selfs wanneer dit moeilik raak. En bowenal, sorg geestelik en emosioneel vir jouself – jou vrede maak net soveel saak as jou punte.”

Riku Lotterie van die Hoërskool Piketberg, het gesê sy voorbereiding gaan goed, hoewel dit soms moeilik is om gemotiveerd te bly. “Ek probeer om elke dag ‘n bietjie te leer en nie alles tot die laaste minuut te los nie. Ek maak opsommings, beantwoord ou vraestelle en vra hulp as ek iets nie verstaan nie. Ek probeer ook om pouses tussenin te neem sodat ek nie oorweldig word nie.”
Lotterie moedig sy mede-matrikulante aan om nie hoop te verloor nie. “Selfs al voel dit asof alles te veel raak, onthou hoekom jy begin het en dat hierdie eksamen net die laaste stap is voor ‘n nuwe begin. Bly kalm, glo in jouself, en doen jou bes – dis al wat regtig saak maak,” het hy bygevoeg.

David Maynier, die Wes-Kaapse Minister van Onderwys, het gesê matrikulante en hul onderwysers het ‘n geweldige hoeveelheid werk ingesit om vir hierdie eksamen voor te berei.
“Ons doen ‘n beroep op almal in ons provinsie om die beste belange van ons kandidate eerste te stel gedurende die eksamentydperk. Ons wens ons kandidate alle sterkte toe.”






You must be logged in to post a comment.