Toe dit verlede jaar bekend word dat die ACVV-dienssentrum se subsidies met 60% verminder gaan word, het die
bestuur en lede besef dat die deure nie sal kan oopbly met die bietjie geld wat hulle wel kry nie. Toemaak was egter geen opsie nie.
Die bestuur het koppe bymekaargesit en besluit om dit te doen waarmee senior burgers goed is – pannekoek, poeding, jaffels ens. maak vir geldinsameling. Die reelmatige verkope deur die jaar het gehelp dat hulle in hul doel geslaag het. Nood leer bid en dit laat jou dink en planne beraam.
‘n Briljante plan om ‘n konsert te hou, met die plaaslike inwoners wat die lyf akteur kon hou, was gewis die regte besluit. ‘n Lid van die dienssentrum, wat die opvoering lank gelede gesien het, het moeite gedoen om die teks te kry en die “akteurs” kon begin oefen aan
Sneeuwitjie en die Bergies, met die regie deur Anél Hanekom.
Die titel verklap reeds dat dit iets spesiaals sou wees. Voeg nog twee verrassings by en gou was die gehoor in vir ‘n bederf, want as Sneeuwitjie en die kaalvoetkoningin hardebaardmans is en die teks feitlik herskryf is met ‘n goeie dosis peper en Tabasco daarby, het almal geweet hierdie konsert gaan ‘n eerste vir Moorreesburg wees en kan nie gemis word nie. Die konsert het ‘n ouderdomsbepering van 13 jaar gehad. Die ACVV se koor het die storie met hul aangepaste liedjies onder klavierbegeleiding mooi help vertel. Soos elke goeie vertoning is die kaartjies uitverkoop en die gehoor beloon met presies dit waarvoor hulle gekom het – ‘n lag per minuut, as dit nie elke 10 sekondes was nie. Van die akteurs moes vir minute lank hul woorde
terughou om te wag dat die gelag bedaar.
Die talent van die akteurs en die
kinkels in die storielyn was die rede waarom dit ‘n treffer was.
Die bestuur, insluitend die ACVV-Moorreesburg-voorsitter Ruan van Heerden, die dienssentrumbestuurder, Susan Wells, en lede van Moorreesburg, weet wat die waarde van die sentrum vir senior lede is en die gemeenskap is innig dankbaar vir hul toegewyde steun.
Die konsert het ‘n reusehupstoot opgelewer en mense praat reeds van nog ‘n konsert volgende jaar. Moorreesburg het gewis talent – en ‘n hart vir sy bejaardes.


