’n Diep, donker gat van depressie is besig om haar in te sluk.
Sy het in haar alleenheid begin drink en sy dreig nou gereeld om op te gee; om nie met die verkragtingsaak deur te druk nie.
Sy weet nie of sy meer kans sien nie.
Maar sy weet ook haar aanvallers sal dan skotvry daarvan afkom.
Maandag, drie dae ná die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders landswyd begin het, het ’n vrou wat glo die seksuele teiken van twee mans by ’n kroeg geword het weer deur haar vriend na Weslander uitgereik. Die koerant het oorspronklik op 27 Oktober oor haar beweerde verkragting in Saldanha berig.
Volgens hierdie berig het die vrou in September saam met ’n vriendin by ’n kroeg gekuier, maar die vriendin het besluit om vroeër huis toe te gaan. Die vrou het toe alleen saam met ander mense in die kroeg gekuier. Twee mans met wie sy vlugtig by die kuierplek gesels het, het haar agtervolg terwyl sy huis toe gestap het. Hulle het glo gesê hulle stap saam met haar vir beskerming. Nadat hulle haar oortuig het om nog ’n drankie saam met hulle by ’n huis daar naby te drink, is die deur glo gesluit en het albei mans, na bewering teen haar wil, met haar seks gehad. Volgens haar vertelling het sy sonder haar onderklere uit die huis gevlug toe sy die eerste kans kry.
Die vrou se vriend het Maandag aan Weslander vertel sy kry weens dié trauma emosioneel baie swaar en is erg depressief.
Die verkragtingsondersoek vorder volgens die vrou baie stadig. Die vriend het aan Weslander gesê ’n nuwe ondersoekbeampte is sedert die publikasie van die vorige berig aangestel om die saak te hanteer, maar nie veel meer het daarna gebeur nie.
Kapt. Johan Horn het in Oktober die saaknommer aan Weslander bevestig en gesê die ondersoek duur voort.
Horn het ook gesê sake soos dié is baie moeilik om te ondersoek en kan dikwels jare lank voortsleep, wat tot groot frustrasie kan lei.
Die howe steun baie swaar op forensiese DNS-bewyse om ’n aanvaller positief met ’n verkragting te verbind. Die probleem is dat die polisie soms langer as ’n jaar op forensiese uitslae van monsters wag weens die forensiese laboratorium se geweldige agterstand met werk.
“In die afwesigheid van DNS-bewyse is dit nog moeiliker om ’n skuldige aan die pen te laat ry.”
Volgens Horn is dit ’n hartseer feit dat sake soms nie verder vorder nie, omdat ’n staatsaanklaer dikwels sal bevind dat die bewyse “te dun” is om dit suksesvol deur te voer.
Dit moet egter so gedoen word omdat die staatsaanklaer weet dat sommige sake heelwaarskynlik vir ’n onredelike lang tyd sal sloer en dit bykomende trauma vir die slagoffers veroorsaak terwyl kosbare tyd en hulpbronne vermors word.
Die vrou se vriend sê haar aanvaller se pa probeer nou haar reputasie skade aandoen en het ’n boodskap rondgestuur waarin hy beweer die slagoffer is geldgierig en het die saak gemaak om sy seun af te pers.
Die vrou sê egter sy soek net weer vrede vir haar siel en sy het haar hoop in die gereg geplaas om haar ’n mate van berusting te bied.
Tans het sy geen vrede nie.
Gail Roman, ’n plaaslike vrywilliger wat ’n pad van genesing saam met slagoffers van trauma stap, sê vroue wat seksueel aangerand is, moet nie hulself afsonder nie aangesien die herstelproses vol moeilike uitdagings is, waarvoor hulle liefde en ondersteuning gaan nodig hê.
Sy sê vroue wat verkrag is, ervaar dikwels ’n skuldgevoel wat hulle verhinder om die saak so gou as moontlik by die polisie aan te meld.