Slag geslaan teen skelms

Die polisie in die Weskus het die afgelope tyd groot sukses behaal om onwettige dwelms, ammunisie en vuurwapens in hul voortgesette stryd teen misdaadbedrywighede uit sirkulasie te haal.


Die polisie in die Weskus het die afgelope tyd groot sukses behaal om onwettige dwelms, ammunisie en vuurwapens in hul voortgesette stryd teen misdaadbedrywighede uit sirkulasie te haal.

Die Moorreesburg-polisie het die afgelope Donderdag (3 Oktober) op 517 Mandrax-tablette met ’n geraamde straatwaarde van R20 000 afgekom. Vyf mans is in hegtenis geneem.

Polisiebeamptes het op inligting gereageer oor dwelms wat op die N7-hoofweg tussen Malmesbury en Moorreesburg vervoer word.

Die beamptes het die verdagte motorvoertuig op die snelweg gaan soek en in die omgewing van Bottelfonteinweg op pad na Moorreesburg gewaar.

Die polisiebeamptes het die bestuurder van die motorvoertuig opdrag gegee om stil te hou, waarop hulle die vyf insittendes en die motorvoertuig deursoek het. Dit het tot die ontdekking van die Mandrax-tablette gelei.

Die polisie het die vyf verdagtes tussen 30 en 40 jaar oud op aanklag van handel in dwelms aangehou.

Die verdagtes het Maandag (7 Oktober) in die Moorreesburg-landdroshof verskyn.

’n Haelgeweer, ’n 9 mm-pistool en ammunisie is verlede week in Saldanha onder ’n paartjie se bed gekry.

Die polisie is ingelig oor die moontlikheid dat Melvenee Swartz (25) en Usman Maarman (35) onwettige vuurwapens by hulle het.

Die polisie het omstreeks 01:30 op ’n woonwa in Bellatrixstraat, Hopland, toegeslaan, waar hulle die vuurwapens en ammunisie versteek gekry het. Maarman, wat reeds ’n misdaadrekord het, en Swartz is in hegtenis geneem.

Hulle het Vrydag (4 Oktober) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Daniel Manore (33) en Miskana Gidebo (28) het Maandag 7 Oktober in die Malmesbury-landdroshof verskyn nadat ’n ongelisensieerde vuurwapen in hul besit gevind is.

Inligting is Saterdag (5 Oktober) laat die middag ontvang dat buitelanders sonder enige lisensie met ’n vuurwapen rondloop.

Die verdagtes se blyplek in Riverlands is deursoek en ’n swart Rossi-vuurwapen sonder enige reeksnommer en vyf rondes ammunisie is onder ’n toonbank in ’n grys sak gekry.

Zenobia Munro (59) kon nie Vrydag (4 Oktober) ’n lisensie vir 224 9 mm-patrone toon nie. Sy is omstreeks 00:20 op die Piketberg-Velddrif-pad (R399) in hegtenis geneem vir die besit van ongelisensieerde ammunisie. Haar voertuig is in Piketberg opgemerk en die polisie het haar probeer voorkeer, maar sy het weggejaag.

In die daaropvolgende jaagtog het die polisiebeamptes daarin geslaag om haar op die R399 voor te keer. Hulle het haar voertuig deursoek en 224 patrone vir ’n 9 mm-pistool in die voertuig gekry. Sy kon nie ’n lisensie verskaf nie.

Sy het reeds in die Piketberg-landdroshof op aanklag van die onwettige besit van ammunisie verskyn.

Vermoedelik gesteelde goedere is in ’n voertuig, wat deur Mtaseteni Siphungu (48) bestuur is, gevind. Hy het Maandag (7 Oktober) in die Clanwilliam-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Die polisie het inligting ontvang dat dié voertuig moontlik gesteelde goedere vervoer. Siphungu is op die N7 naby Clanwilliam voorgekeer en die voertuig is deurgesoek.

Koperkabels van ongeveer R68 000 is in die voertuig gevind.

You need to be Logged In to leave a comment.