Die gekap en timmer by Weskus Mall hou vele veranderinge in.
Weslander het Wendy Bezuidenhout van die mall se bestuurspan gevra om meer te vertel.
Hoewel die bouwerk ongerieflik mag wees vir kliënte blyk dit die verandering beteken ’n verbeterde inkopie-ervaring.
Inwoners is in rep en roer oor gerugte dat Pick n Pay moontlik na die sentrum skuif, maar sulke planne is in die stadium slegs gerugte sê sy.
So graag soos hulle ook ’n fliekteater daar wil hê, is dit ook nie nou op die tafel nie.
Wat wel definitief is, is die koms van ’n nuwe kettingwinkel.
Watter kettingwinkel dit gaan wees moet nog gesien word, maar dié huurder sal volgende jaar Edgars se plek op die onderste vloer in neem.
Edgars sal na die middel van die Mall beweeg waar die roltrappe en hysbak nou is. Dié nuwe winkel sal ’n gedeelte van die parkeerterrein insluit.
Bouwerk sal binnekort begin aangesien hul hoop om hul deure in Mei oop te maak.
Due South gaan langs Ackermans inskuif.
Die installering van die sentrum se twee nuwe roltrappe – een by elke ingang van die sentrum – sal vandeesmaand voltooi wees.
Veranderinge op die boonste vloer sluit in die geleentheidsarea wat skuif waar die roltrappe nou is.
Jaarlikse geleenthede soos die Weslander en Weskus Mall bruidskompetisie, die pensioenarisse tee en die Shavathon sal steeds voortgaan, hoewel vir hierdie jaar in een van die leë besigheidspersele.
“Hierdie geleenthede is belangrik vir ons, want hoewel ons as ’n streekssentrum gesien word, voel ons baie na ons nabye gemeenskappe.”
Op die boonste verdieping kom ’n smakie van Die Groot Appel met The Daily Coffee Café wat in Oktober tussen Musica en Spur oopmaak.
Pendelaars kan ook regmaak vir ’n nuwe taxistaanplek en met Phoenix-Go Kart, wat verlede maand uitgetrek het, is daar meer parkeerplek as ooit.
Meeste van die gekap en timmer sal voor die Feestyd klaar wees so kopers kan uitsien om hul Kers-inkopies in die opgeknapte Weskus Mall te doen sê Bezuidenhout.