Inskrywings vir die 2022 FNB Sauvignon Blanc Suid-Afrika (SA) Top-10-kompetisie is nou oop. Die kultivarorganisasie Sauvignon Blanc Suid-Afrika bied hierdie gesaghebbende kompetisie vanjaar vir die sestiende keer aan.

Volgens die Sauvignon Blanc SA voorsitter, RJ Botha, speel die kompetisie ’n belangrike rol om die beeld van sauvignon blanc, die topverkoper-variëteit in die land, te bevorder.

Botha sê hulle is opgewonde, want die wêreld begin om Suid-Afrika as een van die beste sauvignon blanc-produserende lande te beskou.

Hy sê die kultivar-organisasie daag alle groot en klein produsente uit om in te skryf vir hierdie geleentheid om hul wyne teen ander sauvignon blanc-wyne in die land te meet.

Produsente en kelders kan aanlyn vir die kompetisie op Sauvignon Blanc SA se webwerf by www.sauvignonblanc.com/top10-entry inskryf. Lede kan tot Maandag 1 Augustus 2022 teen ’n spesiale doutrapper-fooi inskryf. Inskrywings sluit op Dinsdag 16 Augustus, met laat inskrywings wat tot Woensdag 24 Augustus aanvaar word.

’n Paneel vooraanstaande wynkenners, met die Kaapse Wynmeester dr. Winifred Bowman as sameroeper, sal die aanspraakmakers van Dinsdag 30 Augustus tot Donderdag 1 September by Uitkyk-landgoed in Stellenbosch beoordeel.

Saam met dr. Bowman op die paneel is die wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald, Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, wynmaker Morgan Steyn van De Grendel, Kaapse Wynmeester René Groenewald asook twee aspirantbeoordelaars.

Die 20 finaliste sal in September aangekondig word, terwyl die top 10-wenners op Donderdag 13 Oktober by die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-toekennings bekend gemaak sal word.

Vir nog inligting, besoek www.sauvignonblanc.com of skakel 021 975 4440.

Stuur e-pos na reinette@sauvignonblanc.com

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025