Die vyfde Weslander en Weskus Mall bruid van die jaar-kompetisie is goed op dreef met Oktober-bruide wat nou kan inskryf.
Bruide wat in Oktober vanjaar getroud is het tot 25 November om in te skryf.
Daar is weer groot pryse om te wen tydens die skitterende gala wat soos oudergewoonte by die Weskus Mall se geleentheidslokaal gehou sal word. Vanjaar se bruidswenners het onder meer vierster-verblyf by die V&A Waterfront te Kaapstad, verskeie uitstappies, geskenkbewyse en mooimaak-produkte gewen.
En die vyfde Bruid van die Jaar se pryse beloof om nog groter en beter te wees.
Die kompetisie is oop vir alle bruide ouer as 18 jaar wat in die tydperk van September 2016 tot Augustus 2017 trou. ’n Onafhanklike paneel van beoordelaars kies maandeliks die Weskus se topbruid vanuit die inskrywings.
Die eerste finalis van die huidige kompetisie is reeds aangekondig met Lize-Mari Rhoode van Dwarskersbos, wat as die September-bruid aangewys is.
Die bruid moet in Weslander se verspreidingsgebied woon óf tot en met haar troudag in die gebied gewoon het.
Inskrywings kos R250 en moet vergesel word van ’n kop-en-skouer- én ’n vollengtefoto. Bel Yaël Malgas of Madelie Tolken by 022 713 1251 vir navrae.