Ongenaakbare sakerowers het Maandag (9 September) ’n boorling van Malawi in Noordhoek, Velddrif, doodgeskiet terwyl hy in ’n supermark op die vloer gelê het soos hulle hom beveel het.
Yassin Mphonda (37) was een van drie werkers wat die oggend omstreeks 10:00 besig was om in die Miki-Velddrif-supermark, oftewel “Die Blou Winkel”, op die hoek van Tulp- en Vuurpylstraat te werk toe drie mans die winkel binnegekom het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, het hulle hulle eers as klante voorgedoen voordat hulle skielik vuurwapens uitgepluk en almal in die winkel gedreig en beveel het om op die grond te gaan lê.
Beskermingsgeld
Een van die rowers het geld uit die kasregister gehaal en terselfdertyd beskermingsgeld van die winkeleienaar geëis. Die eienaar, wat saam met ’n werker agter die toonbank gelê het, het skote hoor afgaan, maar hulle kon nie sien wat gebeur nie.
Mphonda is doodgeskiet op die plek waar die rowers hom gedwing het om op die vloer te lê.
Herman Baumeester (51), ’n plaaslike visserman, het onskuldig ten tyde van die rooftog by die winkel ingestap. Die rowers het hom beveel om dieper die winkel in te gaan, maar hy het omgedraai en probeer weghardloop. Hy is in die rug geskiet.
Die verdagtes het met die geld en selfone in ’n wit Toyota Avanza gevlug, wat oral in die Saldanhabaai-omgewing gesoek is. Die polisie het dié voertuig later opgespoor en dit vorm nou deel van ’n intensiewe soektog na die verdagtes.
West Coast Medical Rescue het die gewonde man per ambulans na die Vredenburg- provinsiale hospitaal geneem.Inwoners van Noordhoek het aan Weslander vertel dat skoolkinders vóór en ná skool graag lekkergoed by dié winkel koop en hulle is net bly die rooftog het op ’n stil tyd van die dag plaasgevind.
“Rowers moet seker nou maar dinge ’n bietjie verander omdat mense met oopmaak- en toemaaktyd baie meer waaksaam is,” is een ma se mening.
St. Helenabaai-rooftog
Dié sakerooftog volg skaars ’n dag nadat ’n winkel in Laingville, St. Helenabaai, ook deur gewapendes beroof is. Twee gewapende rowers het ’n 25-jarige winkeleienaar Saterdagaand (7 September) omstreeks 21:20 in sy winkel in Ericastraat oorval, hom gedreig en geld geëis.
Die rowers het met sowat R9 000 gevlug.
Helfrich het bevestig dat die afpersing van ondernemings in die Weskus begin toeneem.
Leensie Lötter, ’n woordvoerder vir die departement van gesondheid, het gesê Baumeester is met ’n skietwond in die Vredenburg- provinsiale hospitaal se ongevalle opgeneem, waar hy gestabiliseer is. Hy is daarna na die Groote Schuur-hospitaal vir verdere behandeling oorgeplaas.. Enigeen met meer inligting oor die rooftogte kan die Laaiplek-polisie by 022 783 8025 of die polisie in St. Helenabaai by 022 736 8060 skakel.