“Ek is in wese ’n onderwyser – dit is onvermydelik dat ek my met onderwyskwessies sal besig hou.”
Ná meer as drie dekades in die onderwys blyk dit Panorama Primêr se voormalige skoolhoof sal nooit ophou om ’n bydrae tot ander se lewe te lewer nie. Allan Dreyden (56) het die laerskool Vrydag 14 Desember vir sy aftrede gegroet.Onderwys in die bloed
Die Velddriwwer kom uit ’n gesin onderwysers en sy pa, Pieter, het in 1977 as skoolhoof van Eden Primêr begin. “Ek het my onderwysloopbaan as ongediplomeerde opvoeder met slegs matriek agter my naam in 1981 by St. Andrews Primêr in Saldanha begin. “Die volgende jaar het ek my onderwysopleiding aan die Athlone-opleidingskollege in die Paarl begin.
“My eerste betrekking was by Panorama (in 1985) en ek is later na Eden. In 1990 is ek tot departementshoof bevorder. Ses jaar later is ek as adjunkhoof aangestel,” vertel hy.
Dreyden is daarna weer terug na Panorama. In sy loopbaan oor 35 jaar het hy egter besef skoolhou gaan nie net oor klasgee nie, verduidelik Dreyden.
“Skool was vir my ’n baie spesiale plek om ’n verskil in mense se lewe te maak. Ons leerders, veral vanuit Noordkuil en Witteklip, word in die moeilikste omstandighede groot.
“Werkloosheid, enkelouerskap en drank- en dwelmmisbruik is aan die orde van die dag. Daarom het ons probeer om Derdewêreldse omstandighede met Eerstewêreldse omstandighede, norme en waardes by die skool te vervang. By die skool het ons die leerders geleer hulle is wenners ten spyte van hul agtergrond.”
Hy het daarom leerders geprys vir hul puik prestasie en hulle individueel gelukgewens. Volgens sy kollegas was Dreyden op hoogte van die gebeure by die skool en het hy elke kind in elke klas laat besef hulle is wenners, ’n slagspreuk wat talle oud-Pannies bybly.Lewe buite die skool
Harde werk en passie vir die skool het egter beteken die Dreyden-gesin moes soms opsy geskuif word – iets wat hy nou van plan is om reg te stel. “My gesin is oor die jare gruwelik afgeskeep, dus sal ek nou baie meer gehaltetyd met hulle wil deurbring,” sê dié pa van drie. Gelukkig is vroulief Lavona ook ’n onderwyser en sy het begrip vir sy passie.
Die Dreydens het drie seuns – Ashley (29), Graeme (26) en Matthew (14). Een van Dreyden se stokperdjies om vir die gesin te kook – iets wat hy as “terapeuties” beskou.
“My pa het my die kuns geleer om skool by die skool te los en op my huishouding te fokus wanneer ek tuis is. Daarom het ek tussen Vredenburg en terug Velddrif toe gerits, wat verdere skeiding tussen my wêrelde gebied het.”
Nou sal sy dae met kerksake, gemeenskapswerk en natuurlik ontspanning met die familie gevul word.
Weslander verneem die oudskoolhoof hou van tuinmaak waarvoor hy nou meer tyd sal hê.Lesse geleer
“Onderwys is my passie en ek was bevoorreg om dit voluit te kon leef,” sê Dreyden. Sy beroep het hom ook geleer dit is belangrik om te weet wat sy kragpunte sowel as tekortkominge is. “Jy moet ’n mens van hoë integriteit wees, wat vir my beteken what you see is what you get.
Mense praat in plattaal van ’n mens van inbors en ten slotte is harde werk, toewyding en gehalte die geurmiddels van die wenresep.”
Volgens Dennis Malgas, oud-onderwyser wat destyds saam met Dreyden by ’n onderwys-unie gewerk het, was Dreyden “’n jong hoof” maar het hom goed van sy taak gekwyt.
Oor Dreyden se bestuurstyl sê die onderwyseres Hester Nathan, Dreyden het vele geleenthede vir ander geskep. “Hy het so baie moontlikhede vir die personeel sowel as die kinders geskep. Kultuur- en sportprestasies deur leerders het die lig gesien omdat hy dit aangehelp het. Hy het ook dinge soos die skoolkoerant van stapel gestuur.”
Dreyden meen egter die beste nalatenskap wat hy kan hê is sy oud-leerders. “My leerders weet wat vir my die grootste beloning sal wees, is wanneer ek eendag in die hospitaal kom en Pannies as die dokters en verpleërs raakloop. Prokureurs en advokate moet uit ons skool kom; so ook akteurs en rekenmeesters – dan het ons gewen.
“Dan weet ek dat die wenkultuur wat ons wou skep, vrugte dra.”