Skoolhoof kry erkenning ná 40 jaar

“Juffrou” Virginia Vraagom (57) werk al vir vier dekades by Steenberg’s Cove Primêr in St. Helenabaai en is sedert 2010 die skoolhoof.


“Juffrou” Virginia Vraagom (57) werk al vir vier dekades by Steenberg’s Cove Primêr in St. Helenabaai en is sedert 2010 die skoolhoof.

Sy het in 1978 by die skool begin werk nadat sy by die Zonnebloem Kollege in Woodstock was. Sy het deeltyds haar kwalifikasie aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) verwerf.

Die skool se beheerliggaam het haar by ’n onlangse geleentheid met ’n geskenk en sertifikaat van erkenning vir haar 40 jaar diens by die skool verras.

“Ek het dít glad nie verwag nie,” het sy Maandag aan Weslander gesê.

Vraagom, ’n boorling van Steenberg’s Cove, sê sy gee nou skool vir die kleinkinders van sommige van die leerders wat in die 1970’s in haar klas was. “Dit voel regtig soos gister,” erken sy. Haar eerste liefde in die lewe is die onderwys en natuurlik die skool se leerders, maar as sy ooit ’n ander beroep moes kies, sou sy ’n sjef wou word.

Sy reken kook en bak is in haar bloed. Haar oorlede ma en pa was professionele kokke en haar suster Denise Vraagom kook ook graag. Sy is by die skool se voedings­program betrokke.

Haar gunsteling­dis om te maak is ’n geurige kreef­kerrie en sy sê haar “Vigi Special” is ook nogal gewild. Dit is ’n poeding wat na haar vernoem is en wat op die stoof gemaak word.

Dit is vir haar baie belangrik dat kinders respek en dissipline geleer word en sy voel Steenberg’s Cove se leerders beskik oor hierdie waardes.

“Dis alles te danke aan die goeie span onderwysers wat ek het.” Sy vertel met trots van ’n gevoel van liefde en omgee by die skool.

“Selfs mense wat die eerste keer hier instap, praat daarvan.”

Vraagom woon deesdae in Laingville en dis vir haar al te lekker as sy smiddae ná skool voor haar huis stilhou en die straat se kinders kom met ope arms na haar toe aangehardloop.

“Ek het nie kinders van my eie nie, maar aanvaar die kinders van die gemeenskap almal as my eie.”

You need to be Logged In to leave a comment.