Leerders van Laerskool Langebaanweg sê hulle staan bankvas agter hul onderwysers en het vandeesweek ’n optog by die skool gehou teen geweld teen onderwysers.
Na aanleiding van vele gevalle van onderwysers wat vanjaar deur leerders in skole aangeval en vermoor is, het Loraine Geldenbloem (15) en Taya Abraham (13) besluit om die probleem prakties aan te pak.
“Ons het verlede week besluit om die onderwysers te wys ons sal nie geweld teen die personeel duld nie. Ek het gedink hoe bang die onderwysers moet wees en het toe besluit om die optog te hou,” verduidelik Loraine.
Dié twee graad 7-leerders het hul maats aangespoor om plakkate te maak en om Dinsdag die optog te hou. Taya sê sy sien gereeld hoe kinders mekaar op ’n spelerige manier slaan en sê sy het self besef hierdie “speel” is verkeerd. Sy meen dit is nie hoe maats met mekaar moet speel nie en lei tot slegte verhoudings.
Intussen het andere plaaslike skole ook hul stem dik gemaak teen geweld teenoor onderwysers. Masiphathisane Primêre Skool het ’n verklaring gedeel waarin hy die dissiplinêre uitdagings van skole uitlig en ouers gemaan dat “indien hulle kinders wel kies om hulle onvanpas teenoor ’n onderwyser te gedra, hulle kinders se optredes ernstige negatiewe gevolge sal inhou”.