Geweld in Saldanha veral Diazville het gemeenskapsleiers en skole in die area genoop om aksie te neem.
Beide Diazville Primêr en Hoërskool Diazville het briewe aan ouers gestuur om hulle aan te spoor om seker te maak hul kinders is saans teen 19:00 terug by die huis. Dit sluit weeksdae en oor naweke in.
Dit volg kort op die hakke van nóg ‘n geweldadige moord in dié buurt, berug vir die verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith verlede jaar.
Riedewaan “Wannie” Jan (33), ‘n vriendelike hawesekuriteitsman, se verminke liggaam is Maandag 5 Oktober omstreeks 16:45 in die duine naby die sandmyn gekry. Hy was ‘n week lank vermis.
‘n Lid van die publiek, wat per abuis naby die sandmyn verdwaal en op Wannie se ontbinde lyk afgekom.
Lee-Ann Davids-Hartzenberg, skoolhoof van Diazville Primêr, meen leerders se veiligheid en welstand lê die skool ná aan die hart.

Paul Haricombe, skoolhoof van HoërskoolDiazville, sê leerders se veiligheid is hul grootste prioriteit. “Ons versoek net alle belanghebbendes se samewerking en ondersteuning rakende die inisiatief.”

Esmarelda Mckay, ‘n gemeenskapsaktivis in Saldanha, sê weer dit voel onregverdig dat dinge tot op hierdie punt gekom het. “Ons behoort veilig te kan voel in ons eie gemeenskap sonder sulke streng maatreëls, maar ongelukkig het die situasie dit vir eers noodsaaklik gemaak.” Sy hoop met almal se samewerking dat dinge binnekort sal verbeter.



You must be logged in to post a comment.