Familie en vriende van Clive Stevens is in skok gelaat nadat hy Woensdagaand in Diazville opgedaag het nadat hy Vrydag dood verklaar was.
Weslander het hierdie week berig Stevens (50) en sy seun, Marlin Joernaal (16), was verlede week in ’n onderonsie betrokke waartydens altwee gesteek is. Marlin is kort daarna oorlede, maar Stevens is hospitaal toe vir mediese hulp.
Volgens Saldanha-polisie het die tyding Vrydag vanuit ‘n hospitaal in Kaapstad gekom dat Stevens aan sy beserings beswyk het.
Dinge het egter vandeesweek ’n wending geneem toe Stevens by die huis opdaag.
“Hy is baie deurmekaar. Wat ons nou wil weet is wat regtig gebeur het. Hoe kan hulle die man dood verklaar terwyl hy nie dood is nie?,” wou Magdelena Manuel weet.
Stevens sterk by Manuel, ’n familievriend, in Hopland aan.
Die Saldanha-ondersoekbeampte betrokke by Stevens en Marlin se saak was self geskok om te hoor die vermeende slagoffer leef nog. Stevens het sedertdien ’n verklaring by die polisie afgelê, het AO Yolanda Kotze, polisiewoordvoerder, aan Weslander bevestig.
Niemand kan met sekerheid verklaar wat gebeur het nie, maar Manuel sê Stevens het vanuit die Kaapse hospitaal, waar hy dood verklaar was, terug na die Weskus geryloop.
Intussen tref die familie reëlings om Marlin te ruste te lê.