Die familie van Willem Blake (48) is in rou gedompel ná sy onverwagse dood die afgelope Sondag (20 Oktober).
Blake, ’n inwoner van Langebaan, is dood nadat hy glo in ’n rusie deur sy vriendin met ’n mes doodgesteek is.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het bevestig die 31-jarige Michelle Beukes is op aanklag van moord in hegtenis geneem en het Dinsdag in die Hopefield-landdroshof verskyn.
“Beukes het [na bewering] Blake met ’n mes in die bors gesteek en hy is op die toneel oorlede.
“Die voorval het in Arendstraat, Langebaan, plaasgevind.”
Beukes moet weer op Dinsdag 29 Oktober in die hof verskyn vir ’n borgtogaansoek. Sy bly vir eers in aanhouding.
Blake se oudste suster, Magdalena Blake, sê die familie is steeds geskok en “ken nie van sulke dinge wat met hulle of hul naastes gebeur nie”.
Sy beskryf haar broer as ’n stil, hardwerkende mens en dis juis daarom dat dit vir haar skrikwekkend is dat iemand hom leed sou wou aandoen.
Volgens Magdalena was haar broer altyd die een wat saans huis toe gekom het en hom by sy dinge wat hy by die huis moes klaarmaak, bepaal het en het niemand gepla nie.
“Hy het my elke oggend wakker gemaak; hy was my alarm en ek moet sê Maandagoggend het ek hom verskriklik gemis.”
Blake was ’n timmerman van beroep wat toegewyd en gefokus was op die werk wat voor hom gelê het, sê Magdalena.
“Die familie en sy kollegas gaan hom baie mis. Almal is baie hartseer.”
Al is die familie steeds geskok sê Magdalena begrafnisreëlings moet nog getref word. Die begrafnisreëlings was teen die tyd dat die koerant by die drukkers moes wees, nog nie bekend nie.
Blake laat sy twee susters, een broer en drie kinders agter.