Noluvu Ludidi
Sonder waarskuwing en sonder tyding het die wêreld van twee families in ‘n oogwink verander.
Dit was nadat die Weskussers Shahida Jooste (26) van Laingville, haar beste vriend, Matthew Kotzé (26) van Saldanha en haar ma, Carol Jooste (54), ook van Laingville, hul lewe, saam met drie ander in ‘n tragiese ongeluk verloor het.
Die ongeluk het Saterdag (24 Mei) omstreeks 20:00 op die B1-pad tussen Rehoboth en Windhoek in Namibië gebeur toe hulle op pad was na die troue van Carol se broerskind.
Dié twee aspirant-akteurs was in die fleur van hul lewe met deure wat net begin oopgaan het in die bedryf.
Medelye het van oral op sosiale media ingestroom, wat getuig van die impak wat al drie in die lewe van baie gehad het.
Volgens Tameron Marcus, Kotzé se skoonsuster, was hy ‘n baie energieke en gelukkige mens.
“Daar was nie ‘n siel op die aarde vir wie hy enige leed aangedoen het nie en almal was lief vir hom.”
Soos Tameron aan Weslander verduidelik het, het sy en haar man die oproep omstreeks 00:30 ontvang, maar dit is nie op daardie oomblik bekend gemaak dat enigiemand dood is nie en hulle het nie die erns van die saak besef nie.
“Ons het dit eers ligtelik opgeneem, maar ek het Shahida se niggie, wat in Namibië woon, se nommer in die hande gekry en sy het bevestig dat Matthew nie meer met ons is nie. Die nuus is steeds moeilik om te verwerk. Hulle was so naby aan hul bestemming. Shahida en Matthew was baie na aan mekaar – ‘n mens kan sê hulle was onafskeidbaar, en Matthew was soos ‘n kind in die Joostes se huis.”
Kotzé het ‘n liefde vir fotografie gehad, maar ook ‘n passie vir die vermaaklik-
heidsbedryf. Dié twee vriende het tyd in die Kaap deurgebring waar hulle saam as stelwerkers aan Average Joe se tweede reeks gewerk het.
“Ek het altyd vir Matthew gesê ek bewonder hom vir sy dryfkrag. Dit was nogal sy droom.” Kotzé se ouma, Linda Marcus, deel dieselfde sentiment en sê hy het ‘n passie gehad vir die vermaaklik-
heidsbedryf. “Hy was die sonstraal in my lewe en in my hart,” meen Linda.
Bernice Jooste, Carol se skoondogter, vertel hulle het almal saam gereis, maar in verskillende voertuie. “Ons het voor hulle gery en op ‘n plek het ons hulle verloor.
Ons het toe op ‘n teerpad gestop en vir hulle gesit en wag, maar daarna besluit om na ‘n vulstasie te ry om wi-fi te kry sodat ons kontak kon maak om te hoor waar hulle was.”
Soos Bernice verduidelik kon hulle dié drie glad nie in die hande kry nie, en met die wag by die vulstasie het hulle nooddienste sien verbygaan.
Bernice het ‘n voorgevoel gehad dat iets ernstigs moes gebeur het en dat dit moontlik die voertuig waarin haar skoonma en -suster gereis het, betrek. “Toe ons uiteindlik die nuus hoor, wou ons dit nie aanvaar nie. Dit voel steeds onwerklik.”
Sy beskryf beide Carol en Shahida as “mense-mense”. “My skoonma het ‘n pragtige persoonlikheid gehad en het almal altyd met ope arms verwelkom.
“Sy was altyd daar as iemand haar nodig gehad het en Shahida het net so ‘n mooi persoonlikheid gehad en altyd geglimlag – ‘n mens vol liefde. Ons was altyd daar vir mekaar. Wat ek die meeste van hulle al twee gaan mis, is hul ondersteuning – ons het baie goed oor die weg gekom.”
Alhoewel hul geliefdes groot leemtes laat, sê die families hulle sal altyd vasklou aan die herinneringe. Die begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.



