As jy ’n talentvolle jong skoolgaande sportster is, kan die jaar 2018 vir jou ’n baie opwindende jaar word.
Suid-Afrika se voorste sportuitsaaier, SuperSport, het pas bekend gemaak dat hy weer saam met die Weslander op soek is na plaaslike jong sportsterre wat uitblink om hulle te vereer.
Ja, dit is tyd vir die gewilde Let’s Play-Sportster van die Jaar-kompetisie om ook in ons distrik af te skop!
Hoe werk dit?
Elke skool in die distrik – laer- én hoërskole – kry die geleentheid om elke maand tot November ’n sportster vir die kompetisie te benoem.
Die Weslander en SuperSport se beoordelaars kies dan elke maand ’n wenner uit die sportsterre wat benoem is.
Goeie prestasies, maar ook veelsydigheid, sal natuurlik in jou guns tel. Swem, karate, tennis, netbal, atletiek . . . alles maak saak.
Elke maand se wenner ontvang ’n ordentlike Let’s Play-geskenkpak (met komplimente van SuperSport) en ’n onderhoud en foto, net oor jou, sal in die Weslander verskyn.
’n Algehele wenner, of Sportster van die Jaar, word aan die einde van die jaar uit die maandwenners gekies en by ’n heerlike geselligheid aangekondig.
En ja, dié geselligheid word vir SuperSport opgeneem, so werk solank aan daardie glimlag.
Hoe nou gemaak?
Dis maklik om in te skryf! As jou skool nie uit sy eie so gaaf is nie, vra dat iemand jou of ’n pel nomineer en ’n kort opsomming van jou onlangse prestasies, asook jou kontakbesonderhede en dié van ’n onderwyser of afrigter, stuur.
Benoemings vir Januarie, wat ’n opsomming van jou onlangse prestasies asook kontakbesonderhede van jou en ’n onderwyser insluit, moet die Weslander teen 30 Januarie bereik.
Stuur onmiddellik die inskrywings na yael.malgas@media24.com en indien jy na dié berig nog nie presies weet wat aangaan nie, bel 022 713 1251. Let’s Play!