Kotie Kritzinger, ‘n afgetrede predikant van die NG kerk Laaiplek, in sy galery. Foto: Letitia Van Zyl-Schultz

In Laaiplek, Velddrif, waar die see en son saam die lig van skepping weerspieël, leef en werk ‘n man wie se lewe ‘n kunswerk op sigself geword het.

Kotie Kritzinger, ‘n afgetrede predikant van die NG kerk Laaiplek, is nie net bekend vir sy inspirerende bedienings nie, maar ook vir sy talentvolle hand met kwas én kitaar.

Kritzinger is op 20 Maart 1957 in Gordonsbaai gebore. As seun van ‘n predikant het hy in verskeie dorpe grootgeword – van Port Elizabeth tot Beaufort-Wes en só die waarde van gemeenskap en aanpas- sing geleer. Ná matriek aan die Hoërskool Strand het sy pad na Stellenbosch geloop om teologie te studeer. Daarna het hy sy diensplig in die vloot in Saldanha gedoen en in 1985 sy roeping as predikant by die NG gemeente Laaiplek aanvaar.

Kotie Kritzinger, ‘n afgetrede predikant van die NG kerk Laaiplek, in sy galery. Foto: Letitia Van Zyl-Schultz

Hoewel Kritzinger as jong man nooit kuns as sy roeping beskou het nie, het die kreatiewe vonk onverwags in sy studentedae begin vlamvat.
In 1977 het hy vir die eerste keer ‘n verfkwas opgetel en met waterverf geëksperimenteer; later ook met olieverf.

“Ek het nooit gedink ek het talent nie,” vertel hy nederig. “Maar die oomblik toe ek begin skilder, het ek besef dis iets wat ek móés doen.”

Sy passie het met die aanmoediging van familie en vriende gegroei. Hy het sy eerste groot uitstalling in 1991 in die Velddrif-stadsaal gehou, ‘n gebeurtenis wat sy loopbaan as kunstenaar amptelik laat begin het. Vandag word sy werke oor die hele Weskus heen bewonder vir hul realistiese styl, sagte kleure en geloofsboodskappe wat in elke landskap of see-toneel vasgevang is.

“Vir my is elke skildery ‘n stille gebed,” sê hy met ‘n glimlag. “Dis my manier om te sê: Kyk hoe mooi het die Here alles geskep.”
Kritzinger se kreatiewe talent strek egter veel verder as die doek. Hy is ook ‘n uitstekende kitaarspeler en lei die kerk se orkes, waar hy saam met ander musikante die lofliedere van die gemeente begelei.Sy musiek en kuns vorm saam ‘n na- tuurlike verlengstuk van sy geloof; elke noot en elke kwashaal ‘n uitdrukking van dankbaarheid en aanbidding.

“Wanneer ek speel of skilder, ervaar ek dieselfde vrede,” sê hy. “Dis asof die Here my deur verskillende mediums leer om Hom te loof.”

Kritzinger het op 23 Oktober ‘n besonderse kaas-en-wyn-aand by sy eie gallery by Sunset Villas in Garnaalstraat, Laaiplek, aangebied, waar hy sy nuutste skeppings onthul het. Dit was nie net ‘n viering van kuns nie, maar ook van gemeenskap en ‘n geleentheid waar geloof, vriendskap en kreatiwiteit in ‘n warm, inspirerende atmosfeer byeengekom het.

Besoekers kon eerstehands sien hoe Kritzinger se werk steeds ontwikkel, met nuwe temas wat lig werp op die verhou- ding tussen mens en Skepper, aarde en hemel en geloof en kleur.

Met meer as drie dekades se bedie- ning en kuns agter hom, bly Kritzinger ‘n inspirerende voorbeeld van hoe talent, toewyding en geloof saam kan vloei in ‘n lewe van diens. Sy werk op die kansel, die verhoog of die doek, dra altyd dieselfde kernboodskap – hoop, vrede en verwonde- ring oor God se skepping.

“My kuns en musiek is my getuienis,” sê hy sag. “As iemand deur ‘n skildery of ‘n lied iets van die Here se liefde ervaar, dan het ek my doel bereik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article