Kinders wat te veel skermtyd kry – of dit nou voor die TV, tablet of slimfoon is – trek swaarder op skool as kinders wat minder tyd voor ’n skerm deurbring, wys navorsing.
Waar moet jy die streep trek?
Baie ouers erken ruiterlik dat hulle hul kinders – van peuters tot jong skoolgaandes – ure lank los voor ’n toestel met sogenaamde opvoedkundige en oulike programme. Is dit reg? En maak dit saak met watter apps hulle speel?
Ontneem jy jou kind van tegnologiese intelligensie as jy hom van die skerm probeer wegkry, of beskerm jy hom teen ’n gevaar waarvan ons die omvang nog nie verstaan nie?
Dieselfde reël geld as wat in oupa en ouma se tyd al vir tydverdrywe gegeld het, sê die kundiges: Matigheid is koning. Die goue middeweg bly maar altyd die beste weg.
Die Amerikaanse akademie van pediatrie het onlangs weer verklaar dat hy steeds besorg is oor bewyse dat elektroniese mediagebruik ’n skadelike uitwerking op kleiner kinders kan hê. Ja, hulle weet daar is positiewe gevolge ook, maar hulle maan pediaters oor die wêreld heen steeds om met elke ondersoek met ouers oor hul kind se mediagebruik te praat.
Hulle stel veral twee vrae voor:
1. Hoeveel tyd bring jou kind daagliks voor die skerm van ’n TV, slimfoon en/of tablet deur?
2. Is daar ’n TV of internet-gekoppelde toestel in sy kamer?
Dr. Chris Diffenthal, ’n pediater van Bloemfontein, sê hierdie vrae is baie belangrik omdat ’n verband tussen ’n TV-stel in ’n kind se kamer en die gevaar van latere vetsug en dwelmmisbruik gevind is.
Kirsty Chadwick, stigter van The Training Room Online, ’n e-leer-ontwerp en -ontwikkelingsmaatskappy, reken dis baie belangrik dat kinders aan tegnologie blootgestel word.
“Teen die tyd dat vandag se peuters en kleuters by ’n preprimêre skool instap, gaan hulle waarskynlik tegnologie in hul klaskamer gebruik.
“Ons moet ons kinders grootmaak om in dié wêreld te kan funksioneer,” meen sy.
Volgens Kirsty beteken dit kinders moet toegang tot tegnologie hê, maar ouers moet betrokke wees by die apps wat vir hulle afgelaai word.
“Doen eers deeglik navorsing voor jy ’n app vir jou kind aflaai,” is haar raad.
Beskerm só teen die skerm
Kinders onder twee moet glad nie TV kyk of met ander mediatoestelle speel wat op vermaak ingestel is nie, sê die gesiene Amerikaanse pediatriese vereniging.
Dis omdat ’n kind onder twee se brein teen ’n geweldige spoed ontwikkel en klein kindertjies steeds op hul beste leer deur interaksie met mense, nie skerms nie. Die probleem met tyd voor ’n skerm is nie soseer wat met kinders gebeur terwyl hulle dit doen nie, maar wat nié met hulle gebeur nie. Ná hul tweede verjaardag kan hulle een tot twee uur skermtyd per dag toegelaat word, sê die vereniging.
Doen dit só, sê Diffenthal:
. Beperk die algehele skermtyd vir kleuters en voorskoolse kinders tot een tot twee uur per dag, maar breek dit op in korter sessies van 20 minute elk.
. Monitor jou kind se mediagebruik. Weet jy wat hy speel wanneer hy in sy toegelate uur of twee uur op die tablet of foon besig is?
. Stel vir jul gesin ’n mediaspyskaart op waarvolgens die spesifieke dae, die duurte en dalk selfs die soort skermtyd bepaal word.
. Tyd voor ’n skerm behoort ’n beloning vir kinders te wees. Sê as hulle ’n uur lank buite gespeel het, of hul kos klaar geëet het, kan hulle ’n kort tydjie voor die skerm deurbring.
. Speel en kyk vir ’n wyle saam met hulle. Hoewel ouers dit gereeld hoor, kan dit nie genoeg benadruk word nie: Die heel belangrikste ding vir ’n kind is tyd saam met sy ma en/of pa. Dit is ongewens dat ’n tablet of slimfoon dié kosbare tyd vervang.
. Stel ’n goeie voorbeeld deur nie self te veel tyd op jou foon of tablet deur te bring nie.
Is apps almal ewe goed?
Die meeste kundiges glo opvoedkundige programme is ontwerp om deur die kind én ’n ouer of oppasser gekyk te word, aangesien iemand die leerproses moet aanhelp. Of dit werklik gebeur, is te betwyfel. Te veel studies toon dat ouers en oppassers tegnologie as kinderoppasser inspan, aldus inligting op die webtuiste van die Amerikaanse pediatriese vereniging.
In navorsing wat ook op dié vereniging se webblad verskyn, is bevind sekere opvoedkundige programme van ’n hoër gehalte kan wel kinders se sosiale en taalvaardighede en soms selfs skoolgereedheid bevorder.
Niks bewys egter dat sogenaamde opvoedkundige programme en apps enige voordeel vir kinders jonger as twee jaar inhou nie.
Kinders moet verstaan wat hulle sien en doen om enigsins opvoedkundig voordeel uit ’n opvoedkundige app te trek. Leer deur self te ervaar bly die beste manier waarop jou kind ontwikkel.
Kan skerms jou kind se oë beskadig?
Mense meen al baie lank dat ’n te kort afstand tussen jou en ’n toestel (soos rekenaar- en televisieskerms, slimfone en tablette, en selfs boeke) kan lei tot bysiendheid of miopie.
– Colette Du Plessis, Netwerk24.