Nie almal kry ’n tweede kans in die lewe nie, maar Bradley Arendse sê danksy sy nieroorplanting is hy ’n nuwe weergawe van homself.

Bradley, van Malmesbury, het in 2019 ’n nieroorplanting ondergaan ná jare van dialise. Augustus is Orgaanskenkermaand, en dié Swartlander deel sy storie om bewusmaking te help skep.

Skielik siek

“As 38-jarige is ek nooit voorheen as ’n atleet van enige soort geklassifiseer nie. Die titel het eers gekom ná my oorplanting in November 2019 en sewe jaar van dialise,” vertel hy.

Fietsry en atletiek is nou deel van sy alledaagse lewe, maar hy was nie altyd so fris en gesond nie. In 2013 het hy verskeie kwale gehad en selfs nadat hy by ’n dokter was, het Bradley besluit om die Saterdag vir die Abbotsdale-rugbyklub uit te draf. “Ek was by die dokter vir ’n hoofpyn, grieperigheid en ander pyne. Hy het my aangeraai om nie daardie Saterdag rugby te gaan speel nie, maar ek het nie geluister nie,” verduidelik Bradley.

Hy is ’n week later in die Swartland-hospitaal opgeneem. Die kopsere, rugpyne en hoë bloeddruk was eintlik tekens dat iets met sy niere fout was.

Dié rugbyspeler moes toe drie weke in die hospitaal bly vir waarneming. “My niere het so gekrimp dat die dokters nie ’n biopsie kon doen om te bepaal wat fout is nie. Die vermoede is ek het te min water en te veel alkohol gedrink toe ek jonger was,” verduidelik hy.

’n Maat wat toe ’n pasmaat was

Bradley het egter begin agteruitgaan en ná sy oorplasing na die Tygerberg-hospitaal moes hy met dialise begin.

Volgens die Orgaanskenkingstigting was daar 216 volwassenes en 8 kinders wat op nier-oorplantings gewag het in 2019. Die syfers het na verwagte toegeneem veral met die pandemie wat skenkings laat afneem het.

Ná ’n soektog vir ’n nuwe nier is Bradley se vrou, Sandy, as ’n pasmaat geïdentifiseer. Bradley het in 2017 met Swartland Gazette, Weslander se susterskoerant, oor die skenking gesels.

“Dit is ’n groot opoffering waarvoor ek altyd dankbaar sal wees. Daar was tye toe sy my op die badkamervloer gekry het nadat ek flou geword het, maar deur dit alles was sy daar.

“Ek is dankbaar vir haar liefde en dat sy bereid is om letterlik ’n deel van haarself vir my te skenk, maar ek is ook senuweeagtig. Sy het besluit om my lewe te red, maar wat as my liggaam haar nier verwerp?” het hy destyds aan die koerant vertel.

Dié plan het egter deur die mat geval.

“My vrou se proteïenvlakke was te hoog en die staat het toe die skenking afgekeur. Dit was hartverskeurend. Ek het gehoop dit sou die verandering wees waarvoor ons gewag het, maar aan die ander kant was ek bly. Dit het my vrou die operasie gespaar,” sê hy nou.

Hy het egter nie hoop verloor nie. Bradley het toe daadwerklik op sy fiksheid gefokus. Later het hy ’n fiets van ’n vriend gekry, en hy sê dít het ’n ommeswaai in sy lewe teweeg gebring.

“In daardie stadium het ek vrede gemaak met die feit dat ek nie ’n nier sou kry nie. Fietsry het gehelp om my vinnig fiks te kry en danksy die fiksheid en die dialise het ek aangegaan met my lewe. Weens my skaars bloedgroep het ek gedink ’n skenking sal nooit gebeur nie.”

Die lang verwagte oproep

In November 2019 het Bradley se lewe egter weer verander. Hy het op ’n Maandagaand om 23:00 ’n oproep van die Tygerberg-hospitaal gekry – ’n nier wag vir hom; hy moet kom.

Bradley sê hy het na die Kaapse hospitaal gejaag en was teen Dinsdagmiddag in die teater. Net voordat die dokters hom onder narkose kon plaas, het hy weer slegte nuus ontvang. “Hulle kry toe ’n oproep om te sê daar is ’n rooivlag; die operasie kan nie voortgaan nie. Ek was stukkend. Die operasie is vir 13 uur uitgestel, maar ek het geglo dit sou eenvoudig net nie gebeur nie.”

Hy kon egter die volgende dag geopereer word en hy is terug na die teater. Daardie dag – 6 November – het alles vlot verloop. Bradley het sy nier gekry en “dit het onmiddellik begin werk”.

Vir baie mense is die idee om jouself te verlig, glad nie iets om oor huis toe te skryf nie, maar Bradley sê die eerste keer wat hy weer kon urineer, het hy trane van blydskap gehad.

Sy vlak van fiksheid het ook die saak gehelp en Bradley sê sy herstel is gewis deur sy goeie fiksheid aangehelp.

Fiksheid

Bradley se fiksheid was só goed dat hy vier maande ná die operasie sy eerste Kaapstad Fietstoer aangepak het. Hy het die 109 km op sy fiets kafgedraf aangesien hy reeds voor die operasie ingeskryf het.

Mense wat orgaanoorplantings ondergaan, het ’n groter kans om siektes en infeksie op te doen, veral kort ná die prosedure, en Bradley het die fietstog met ’n masker voltooi.

Die fietstoer was kort na nuus oor die koronavirus gebreek het, en Bradley het gemeen hy is liewer bang Jan as dooie Jan oor dié voorkomingsmaatreël.

Die nuwe nier het Bradley ook weer sy tyd teruggegee – weg was die ure van dialise, en hy kon weer volstoom begin werk. Die vrye tyd het hom ook die geleentheid gegee om poësie en verhale te begin skryf. Hy het sy eerste digbundel die lig laat sien en Kuier-lesers sal Bradley se kortverhale herken.

Hy sê egter wat hom nou die besigste hou, is atletiek. Hy het in Julie aan die nasionale oorplantingspele in Gqeberha deelgeneem. “Ek het teen atlete van oor die hele land heen meegeding vir ’n plek in die nasionale span, wat volgende jaar na die Wêreldspele in Perth, Australië, gaan,” sê hy.

Hier gaan hy hopelik aan die 100 m- en 400 m-wedlope asook verspring deelneem.

Hy moes hom egter weens mediese redes aan die fietsren onttrek. “Ek is ’n stappie nader om die SA span te haal, maar steeds, om so ver te kom . . . dit is ook genoeg vir my. Maar om die groen en goud te dra, sal ’n groot eer wees,” beklemtoon hy.

’n Ambassadeur met ’n vol lewe

“Orgaanskenking het my lewe gered en heeltemal verander. Soos ek altyd sê – nierversaking was een van die beste dinge wat met my kon gebeur het. Ek leef nou van dag tot dag en geniet elke oomblik van die tweede kans wat ek gegun is. Party dae voel ek ek wil die handdoek ingooi, maar dan dink ek net weer aan waar ek was en aan al die struikelblokke wat ek al oorkom het. Dit motiveer my om aan te gaan.”

Hy wil ander aanmoedig om orgaanskenkers te word, want “jy kan werklik mense se lewe red”.

Hy sê hy sal altyd dankbaar en geëerd voel vir daardie skenker wat sy lewe verloor het, maar ’n nuwe lewe aan hom geskenk het.

“Ek dink aan die opoffering van daardie slagoffer om my ’n tweede kans te kon gee. Ná ’n ervaring soos hierdie besef jy waaroor die lewe werklik gaan – om elke dag op te staan en jou alles te gee. Dit is om dankbaar te wees vir die tyd wat jy saam met jou familie kan deurbring en om soos enige ander gesonde mens met jou lewe voort te gaan.”

Hoewel dit ’n moeilike, pynlike en uitputtende reis was, sê Bradley die ervaring het hom ’n ondersteunings­netwerk soos min gegee. Hy lig veral Sandy uit en meen die insae van sy vriende, mede-atlete, werkgewer en gemeenskap help om hom deur te dra.

“Dit is nie altyd maklik nie, maar ek vaar goed. Daar is nog baie dinge wat my aandag geniet, en verder fokus ek op my familie en atletiek,” vertel Bradley.. Vir meer inligting oor wat die spele alles behels, besoek gerus www.transplantsport.co.za en loer ook by www.odf.co.za om as ’n orgaanskenker te registreer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025