’n Bolandse skeidsregter wat tydens ’n Top-12-rugbywedstryd foutiewelik ’n drie, wat volgens alle aanduidings duidelik nie een was nie, toegeken het, is vir minstens twee weke onttrek en sal gedurende dié tyd geen wedstryde hanteer nie.

Dié omstrede voorval het Saterdag 19 Oktober in die kragmeting tussen Saldanhabaai en Safcol United by die Transnet-stadion in Saldanhabaai plaasgevind.

Terloops, Safcol het dié wedstryd naelskraaps met 27-25 gewen.

Die voorval het wye reaksie op die rugbygroepe op sosiale media ontlok.

Ná die herrie wat dié omstrede voorval ontketen het, het die Boland-rugbyunie op Woensdag 23 Oktober in die Flappie Lochner-saal in Wellington ’n mediakonferensie gehou. Die doel was om die rugbypubliek oor die omstandighede rakende die voorval asook stappe wat geneem is, in te lig.

Die mediakonferensie is deur die Boland-rugbyunie se president, Bennie van Rooi, die vise-president, Pat Marran, Kobus Vegotinie (bestuurder) asook Linston Manuels (bestuurder van skeidsregters) bygewoon.

“Ná deeglike oorweging van die beeldmateriaal en ’n vergadering met die skeidsregtersvereniging en betrokke skeidsregters wil ons die volgende duidelik maak,” het Van Rooi luidens die mediaverklaring gesê.

“Die skeidsregter wat die drie toegeken het, het erken dat daar ’n fout gemaak is.

“Hy was nie in ’n posisie om duidelik te sien of die bal geplaas is of vorentoe aangeslaan is nie.

“Die skeidsregter het sy optrede as ’n menslike fout erken en toegegee dat daar meer duidelikheid benodig was voordat hy die drie toegeken het.”

Van Rooi het voorts gesê daar is voorstelle aan die Skeidsregtersvereniging gemaak en die unie verwag dat skeidsregters binne die raamwerk van hul grondwet sal optree om die nodige stappe te doen.

Die rugbybaas het ook benadruk dat “onthou moet word, ons deal hier ook met ’n mens. En ’n mens met integriteit.”

Marran het bevestig die unie se dagbestuur het met die Skeidsregtersvereniging oor die betrokke aangeleentheid vergader.

Die dagbestuur is nogtans van mening “die Skeidsregtersvereniging moet sy onafhanklikheid behou en dat daar geen inmenging in terme van daardie spesifieke struktuur moet wees nie.”

Marran het egter ook bygevoeg: “Wat ons ook gesê het, as dagbestuur, ons kan nie net sit en toekyk dat dinge gebeur en ons het nie ’n sê nie. Ons ‘sê’ is egter in die vorm van ’n aanbeveling na die Skeidsregtersvereniging.”

Manuels het met die intrapslag aangedui dat die skeidsregter midde-in die omstredenheid diep geraak voel oor die gebeure. Hy het afgesluit en gesê die betrokke skeidsregter vat die gebeure swaar. “Ek wil aan julle noem, hy’s stuk­kend, stukkend as ’n mens. Hy’t ’n fout gemaak en dit erken,” het Manuels gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025