Die gemeenskap van Steenberg’s Cove treur ná die dood van Vennessa

Lewis, ‘n geliefde gr. R-onderwyseres van Steenberg’s Cove Primêr. Lewis is op Donderdag 9 Oktober aan kanker oorlede – slegs drie dae voor haar 61ste verjaarsdag.

Sy het in 1999 by Steenberg’s Cove Primêr aangesluit, waar sy haar passie en liefde vir onderwys uitgeleef het. Juffrou Nessa, soos almal haar geken het, was die hartklop van haar klas.

Volgens Karyke Smit, die hoof, kon Lewis kinders op ‘n baie besonderse manier na haar hand grootmaak. “Kinders van die St Helenabaai-omgewing kon nie wag om eendag na juffrou Nessa se gr.R-klas toe te kom nie. Hoewel sy nie kinders van haar eie gehad het nie, het sy ‘n diep liefde vir haar familie se kinders, kinders van die gemeenskap en die kinders in haar klas gehad.”

Smit meen Lewis het elke kind in diepte geken en het hope geduld met elkeen gehad. “Sy het nie net kennis en vaardighede vir die maatjies geleer nie, maar haar ook daarvoor beywer om waardes soos respek en selfvertroue in elkeen te plant. Juffrou Nessa het oral waar sy gegaan het, mense laat giggel met haar snaakse sêgoedjies.”

Dit is ‘n sentiment wat haar familie ook deel. Hulle sê hulle gaan haar staaltjies baie mis, veral omdat sy ‘n storie met haar eie flair kon vertel met haar spesiale laggie wat hulle altyd sal onthou. “Ons sal altyd onthou hoe sy dinge aangepak het. Sy het nie maklik opgegee nie en wanneer sy iets gedoen het, het sy dit altyd met liefde gedoen.”

Wyle Vennessa Lewis.

Baie hardwerkend:

Sy het elke kind in haar klas op die naam geken; ook elkeen se persoonlikheid en tekortkoming. “Sy het ‘haar’ kinders met liefde en geduld hanteer en hulle getugtig as sy moes, maar met deernis en liefde. Sy het haar lewe aan die skool gewy en was by elke geleentheid betrokke – van sport tot finansies.

“Sy het haar werk met passie gedoen,” vertel die familie.

Smit meen Lewis was ‘n raakvatter, en wanneer dit by skoolgeleenthede gekom het, het sy nie geskroom nie. “Juffrou Nessa was georganiseerd en bitter hardwerkend. Haar gr. R-debutantebal, wat elke jaar haar hoogtepunt was, sal op Saterdag 15 November plaasvind. Hierdie aand sal nou vir ons as personeel, haar leerders en hul ouers ‘n baie emosionele aand wees.”

Vir Smit persoonlik het Lewis se teenwoordigheid altyd vir haar kalmte gebring. “Met haar in die omgewing kon ons planne beraam en ‘n bende stormloop. Sy het dinge stil-stil uitsorteer en reëlings getref – sonder om gesien te wil wees of om erkenning te soek. Haar lojaliteit teenoor die skool en die leerders in haar klas was merkwaardig. Ek sal ook altyd haar uitdrukking onthou – ‘Die Heiland is gebore!’ wat sy met ‘n ernstige gesig gesê het wanneer iets haar verbaas of geskok het. Dan bars almal uit van die lag. Daardie eenvoudige woorde het altyd ‘n ligte, gelowige humor gebring en was só tipies van juffrou Nessa – wat haar geloof in alles gedra het.”

Lewis laat haar man, twee broers, drie susters en grootmaakkinders agter.

Die begrafnis word op Saterdag 18 Oktober gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025