’n Gr. 10-leerder aan die Curro-privaatskool op Langebaan word sedert vanoggend, Woensdag 23 Oktober, vermis.
Lincoln “Linc” Burger (16) se ma het volgens die Darling-polisie hom Dinsdagaand (22 Oktober) omstreeks 22:00 die laaste keer in die gesin se woning op Yzerfontein gesien. Sy ma het gedink hy het gaan slaap.
Vanoggend toe sy hom wou wakker maak vir die bus, het sy ontdek dat hy nie in sy kamer is nie. Van sy klere en sy skaatsplank was ook weg.
Die gesin is opreg bekommerd oor Linc, wat as ietwat van ’n alleenloper by die skool beskryf word, se veiligheid. Hy moet op Woensdag 30 Oktober jaareindeksamen begin skryf.
Linc is as ’n vermiste persoon by die polisie aangemeld.
Enigiemand wat dalk inligting het wat kan lei tot Lincoln se veilige terugkeer word gevra om asseblief die ondersoekbeampte AO Megan Adams by 083 7320131 of 082 469 5823 te bel.
Inligting sal as vertroulik hanteer word.