Seminaar wil môre se leiers brei

Leerders van Hoërskool Dirkie Uys Moorreesburg is Vrydag op ’n leierskapseminaar geïnspireer deur sprekers soos dr. Braam Hanekom, Rian Truter, Elsabé Aldrich en Harold Cleophas, burgemeester van die Weskus-distrikmunisipaliteit.


Leerders van Hoërskool Dirkie Uys Moorreesburg is Vrydag op ’n leierskapseminaar geïnspireer deur sprekers soos dr. Braam Hanekom, Rian Truter, Elsabé Aldrich en Harold Cleophas, burgemeester van die Weskus-distrikmunisipaliteit.

Hanekom het oor morele leierskap in ’n uitdagende, moderne samelewing gesê ’n goeie leier kan deur sy of haar karakter onderskei word. Is hy of sy diensbaar, nederig, konsekwent en volkome eerlik in goeie en slegte tye – ook as niemand sien nie? Só leier het ook wysheid en die vertroue van sy of haar volgelinge nodig.

Truter het die leerders verseker dat ’n balkie of titel nie van ’n mens ’n leier maak nie. “ ’n Leier dien, inspireer, leer en stel te alle tye ’n voorbeeld vir ander,” het hy gesê.

Aldrich het die belangrikheid van ’n vooruitsig beklemtoon. “ ’n Leier moet weet waarheen hy of sy op pad is.”

Sy het ook die karakter van ’n leier beklemtoon.

Cleophas se tema was dat leiers moet weet waar hulle vandaan kom. “Moenie dat die verlede, mense of geld jou beheer nie. ‘Fear’ kan staan vir ‘Forget everything and run’ of ‘Face everything and rise’!”

Die seminaar is gereël deur die inisiatief van die verenigende raad van leerders (VRL), wat die voornemende leiers in die skool wil bemagtig om ’n positiewe verskil in die skool en wêreld te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.